Met sy pikswart voorkoms wat dadelik opgeval het tussen die menigte grys geboue van Chicago se stadsprofiel was die trappiesvormige aangesig van die Sears-toring vir byna drie dekades lank die wêreld se hoogste gebou.
Deesdae het hy 'n ander naam, en dien hy nie meer as hoofkantoor van 'n Amerikaanse kleinhandelreus nie. Sy 110 verdiepings is lankal ook nie meer die hoogste ter wêreld nie.
Maar die Sears-toring sal nog vir lank 'n ikoniese kenteken bly in die annale van toringgeboue.
Die Sears-toring was 'n kind van sy tyd.
Kommersiële eiendom is altyd 'n goeie barometer van 'n land se ekonomiese status en vermoëns. Enigeen kan 'n reghoekige struktuur bou met 'n dak op. Sodra die struktuur egter komplekser raak, raak die projek duurder en die bouproses ingewikkelder.
Geboue met 'n ingewikkelde struktuur, soos die Sydney-operahuis of 'n Frank Gehry-meesterstuk in Bilbao, vertolk dus die rol van 'n subtiele gebult van die ekonomiese spiere.
Dit geld egter ook wolkekrabbers - dis goedkoper om 'n plat hoofkantoor te bou as om 'n smal toringgebou daarvoor op te rig.
'n Ekonomiese vuis in die lug
In die 1960's was die Sears & Roebuck-kleinhandelgroep 'n sprekende voorbeeld hiervan.
Met hul hoofkantoor in Chicago het die groep se posbesteldiens vir sy produkte fenomenale groei getoon.
Soveel so dat toe die groep 'n nuwe, groter hoofkantoor in die laat 1960's moes bou, hulle op 'n nuwe, meer sentrale perseel in Chicago besluit het. Die perseel was hopeloos te klein vir die vloerruimte wat hulle in gedagte gehad het, maar danksy diep sakke was die argitekte se oplossing vir 'n hoë toringgebou nie 'n probleem nie.
Die gebou kon dus benewens sy praktiese rol as nuwe, groter hoofkantoor ook die rol speel van bors uitstoot: Kyk hoe suksesvol is ons.
Die taak vir die ontwerp van die nuwe hoofkantoor het op die skouers van die argitek Bruce Graham en sy ingenieur Fazlur Khan geval. Die aanvanklike ontwerp het vir 'n toring van tussen 60 en 70 verdiepings voorsiening gemaak, wat genoeg vloerruimte vir Sears sou bied om al sy administratiewe kantore te kon huisves.
Teen 1970 het die groep egter nuwe rekord-resultate bekend gemaak, en met die vooruitsigte vir verdere groei in verdienste is die argitekte die groen lig gegee om verdiepings by te las.
Teen Junie 1970 is die ontwerp gefinaliseer met 'n gebou wat 108 bewoonbare verdiepings sou bied, met 'n 109de verdieping wat die dakverdieping is, en die 110de wat die hysbakmeganismes huisves.
Teen 440 m hoog sou dit die nuwe, hoogste gebou ter wêreld wees - hoewel New York se World Trade Center, wat toe pas mee begin is, netsoveel verdiepings, maar hoër radiotorings sou hê.
Om groter sterkte aan die struktuur te bied, en ook om meer kompakte vloerruimte aan addisionele huurders te verskaf, is op 'n interessante 3x3-blokpatroon vir die vloerontwerp besluit. Die gebou sou dus heel onder uit nege vierkante bestaan, wat in drie rye van drie vierkante elk gerangskik is.
Soos die gebou al hoe hoër raak, stop 'n blok aan die buitekant van die ontwerp terwyl die res van die struktuur al hoe hoër neig. Die fasade is van aluminium en met swartgetinte glas afgewerk.
Ikoniese gehapte voorkoms
Dit gee aan die Sears-toring sy unieke "gehapte" voorkoms, soos wat elk van die buitenste blokke op verskillende hoogtes tot stilstand kom.
Die hoogste deel van die toring word gevorm deur die middelste 3x1-ry van blokke.
Vir 25 jaar, van sy voltooiing in Mei 1973 tot met die lintknip van die dubbele Petronas-torings in Kuala Lumpur in Maleisië in 1998, was hy die hoogste ter wêreld.
Vandag heet hy die Willisgebou, genoem na sy nuwe eienaars, 'n beleggingsgroep. Net soos sy eertydse eienaars het die mark se smaak aanbeweeg na nuwe wyses van inkopies doen, en het Sears nie meer die invloed en diep sakke gehad van voorheen nie.
Maar soos 'n plate-album 'n boekmerk is van waar 'n musiekgroep hom bevind op sy reis sal die Sears-toring altyd 'n ikoon en rigtingwyser bly in die landskap van argitektuur, ekonomie en kultuur.















