Eiendomme

Serwitute: Implikasies kan verreikend wees

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In 'n onlangse episode van Slim met eiendom gesels Maryna Botha, regsgeleerde van STBB, oor die komplekse wêreld van serwituutregte.

Die besit van eiendom beteken nie noodwendig dat jy volle en onbeperkte regte oor daardie eiendom het nie.

Volgens Botha is eiendomsreg "een van die oudste en mees fundamentele regte in ons regstelsel, maar selfs hierdie reg is onderhewig aan beperkings - waarvan serwitute een van die belangrikstes is".

Daar is hoofsaaklik twee tipes serwitute wat eiendomseienaars raak: grondserwitute en persoonlike serwitute.

"Grondserwitute is permanent aan die eiendom gekoppel en bly van krag selfs wanneer die eiendom van eienaar verwissel.

"Hierteenoor is persoonlike serwitute gebonde aan 'n spesifieke individu en verval gewoonlik by daardie persoon se dood," sê sy.

Illustrasie: TOQAN KI
Illustrasie: TOQAN KI

'n Voorbeeld van 'n grondserwituut is 'n deurgangsreg wat aan 'n aangrensende eienaar verleen word. So 'n serwituut bly van krag ongeag wie die eiendom koop of verkoop. Persoonlike serwitute sluit regte in soos usus (gebruiksreg), usufruct (vruggebruik) of habitatio (bewoning), wat aan 'n persoon, eerder as 'n eiendom, toegeken word.

Botha beklemtoon die belang van behoorlike registrasie: "Serwitute moet by die Aktekantoor geregistreer word om regskrag te hê. Hulle kan ontstaan deur ooreenkoms tussen partye, deur verjaring of deur wetgewing."

Die implikasies van serwitute kan verreikend wees.

"Dit kan die waarde, die gebruik en selfs die herverkoopbaarheid van jou eiendom beïnvloed," waarsku Botha.

"Dit is waarom potensiële kopers die titelakte deeglik moet bestudeer en alle serwitute, beperkings of voorwaardes met 'n aktebesorger moet bespreek voordat hulle 'n koopooreenkoms teken."

Botha verwys na 'n onlangse hofsaak wat die interpretasie van geregistreerde serwitute beïnvloed het.

"Die howe speel 'n deurslaggewende rol in die interpretasie van serwitute, veral waar daar onsekerheid is oor die aard of omvang daarvan."

'n Belangrike aspek wat dikwels misgekyk word, is hoe dispute oor serwitute opgelos word.

"Indien daar 'n dispuut ontstaan, kan dit lei tot regsprosesse wat tydrowend en duur kan wees. Dit is daarom noodsaaklik om 'n regskenner te raadpleeg indien jy onseker is oor jou regte of verpligtinge," adviseer Botha.

Die onderhoud het ook aandag geskenk aan die rol van die konstitusionele hof in kwessies rakende serwituutregte.

"Sake beland by die konstitusionele hof wanneer dit belangrike kwessies raak wat 'n permanente impak op eiendomsregte het," verduidelik Botha.

"Die interpretasie van serwitute en hoe dit met ander grondwetlike regte verband hou, kan bepalend wees vir die uitkoms van 'n saak."

Ten slotte raai Botha alle eiendomseienaars en voornemende kopers aan om hulself te bemagtig met kennis oor serwituutregte.

"Voordat jy enige transaksie of ooreenkoms aangaan, maak seker dat jy die doel en impak van bestaande serwitute ten volle verstaan. Dit kan jou beskerm teen onaangename verrassings en regskwessies later."

  • Die volledige onderhoud kan geluister word op Netwerk24 Klankgolwe se podsending Slim met eiendom waarin Malani Venter met kundiges gesels oor belangrike aspekte van die eiendoms­bedryf.
Malani Venter