Eiendomme

Staatspensioene in Waterfall City belê

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die uitsig van die Luna Club af, ’n leefstylontwikkeling in Cassini Tower, een van die geboue in Ellipse Waterfall, wat deel vorm van Waterfall City in Midrand, Gauteng. Foto: Attacq/Facebook
Die uitsig van die Luna Club af, ’n leefstylontwikkeling in Cassini Tower, een van die geboue in Ellipse Waterfall, wat deel vorm van Waterfall City in Midrand, Gauteng. Foto: Attacq/Facebook

Werkende en afgetrede staatsamptenare gaan nou ook voordeel trek uit die gewildheid van Waterfall City, 'n groot eiendomsontwikkeling in Gauteng.

Waterfall City huisves die Mall of Africa, wat beskryf word as die grootste winkelsentrum in Suid-Afrika wat in een enkele fase ontwikkel is.

Dit kom nadat die Staatspensioenfonds (GEPF) via die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) 'n belang van 30% in die genoteerde eiendomsgroep Attacq se Waterfall City-beleggingsmaatskappy gekoop het. R2,7 miljard van staatsamptenare se aftreegeld word hierin belê.

Die finale bindende ooreenkomste vir die transaksie is Woensdag onderteken, het Attacq Donderdag op die JSE se Sens-nuusdiens aangekondig.

Attacq se aandeelhouers moet nog die voorgestelde transaksie goedkeur. Die GEPF sal 'n maksimum kontantbedrag van R2,388 miljard betaal, tesame met 'n aandeelhouerslening van R300 miljoen aan die beleggingsmaatskappy.

Attacq behou 'n 70%-belang in die Waterfall City-beleggingsmaatskappy en sal voortgaan om eiendoms-, ontwikkelings- en fondsbestuursdienste teen markverwante pryse daaraan te lewer.

Volgens Attacq word die GEPF 'n langtermynbeleggingsvennoot in Waterfall City, en die geld wat invloei, sal help om die gebied verder te ontwikkel, die skuldvlakke van die groep te verlaag en sy likiditeit te verbeter.

Attacq gaan R2,2 miljard van die geld gebruik om van die skuld in die beleggingsmaatskappy af te betaal, asook sowat R500 miljoen se skuld in die res van die Attacq-groep. Dit sal sy skuldhefboomverhouding van 38% teen einde Desember tot 26,3% verlaag.

Attacq praat met sy bankiers om sy oorblywende skuld teen beter voorwaardes te herfinansier.

Die ligter balansstaat en laer skuldkoste sal hom ruimte gee om toekomstige ontwikkelings te kan finansier. Attacq glo die transaksie sal sy verspreibare inkomste, oftewel die beleggingsopbrengs, verbeter danksy die laer rentekoste.

Die voorlopige koopprys sal volgens Attacq bepaal word op grond van die netto batewaarde van die Waterfall City-beleggingsmaatskappy nadat sy belang in MAS plc verskuif is na die res van die Attacq-groep. MAS plc is 'n Europese eiendomsgroep waarin Attacq 'n belegger is.

Op grond van verskillende waardasies teen die tyd van die datum vir die inwerkingstelling van die transaksie, sal die finale koopprys nog aangepas kan word, maar dit sal nie meer as R2,688 miljard wees nie.

Teen einde Desember was die Waterfall City-ontwikkeling R6,417 miljard werd. Die wins van die ontwikkeling was vir die ses maande tot einde Desember R211,6 miljoen.

Die Mall of Africa lewer tans die meeste wins op vir die ontwikkeling. Daar is verskeie kantoorgeboue in die ontwikkeling, waarvan die meeste winsgewend bedryf word. Van die maatskappye wat kantore daar het, sluit in Cell C en PwC.

Die logistieke sentra op die perseel word ook meestal winsgewend bedryf. Die maatskappye wat verspreiding- of logistieke sentra daar huur, sluit in Dis-Chem, Dimension Data, Massbuild, Cotton On en BMW. Van die twee hotelle in die ontwikkeling maak die City Lodge 'n wins, maar die Courtyard-hotel ly 'n verlies, blyk uit winssyfers wat Attacq in die Sens-verklaring noem.

'n Hoofkantoor en verspreidingsentrum vir die badkamertoebehore-maatskappy Plumblink word tans by Waterfall City gebou.

Attacq besit ook ander winkelsentrums landwyd, soos die Garden Route Mall in George in die Suid-Kaap en die Mooirivier Mall in Potchefstroom in Noordwes.

Die GEPF se langtermynbatetoewysing is om 5% van sy lede se pensioenfondsbydraes in plaaslike eiendom te belê. Hy het tans 4% van sy bates in eiendom. Die GEPF besit via die OBK ook 'n 50%-belang in die V&A Waterfront in Kaapstad.

Teen verlede jaar was die GEPF se totale bates sowat R2 300 miljard. Dit impliseer sy eiendomsbeleggings bedra sowat R92 miljard.

Volgens die GEPF se jaarverslag van verlede jaar het sy eiendomsbeleggings verlede jaar inkomste van R1,95 miljard gelewer.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM