Hierdie keurig en stylvol gemoderniseerde gesinswoning het 'n uitstekende en baie sentrale straatligging - naby Tuks, Pretoria se beste skole, hospitale en die stad se gewildste winkelsentrums.
Dit is inderdaad 'n lekker-bly en lekker-kuier woning met ekstra ruim leefareas plus buite-onthaalareas en boonop 'n lae instandhouding-opset wat beslis volpunte by die lui tuinier sal kry. Die binneruim is met fyn aandag aan besonderhede beplan en die kleurpalet is skakerings van grys en wit wat tydloos is en waarby die nuwe eienaar se meubels maklik kan inskakel.

Vanuit 'n imposante ingangsportaal vloei die ekstra ruim gesinskamer en eetkamer wat halfoopplan is met 'n goed toegeruste kombuis. Die ruim sitkamer het 'n gesellige kaggel-kuierarea vir die koue wintermaande en daar is pragtige parket-houtvloere deur die hele eiendom. Daar is ook 'n private werkstasie en studeerruimte waar 'n mens kan sit en jou e-pos beantwoord of waar die kinders hul huiswerk kan doen. Die reusevoorstoep is perfek vir lekker braai en kuier, en natuurlik waar almal kan saamtrek en rugby kyk.
Die groot kombuis met baie stoorruimte en kaste is prakties in die middel van alles geplaas met 'n reuse-, veeldoelige werkeiland waar almal heerlik kan kuier terwyl daar kos gemaak word. Daar is volop werkoppervlaktes ook van Caesarstone en dit dra by tot die gevoel van luuksheid wat 'n mens met die topgehalte-afwerkings waarmee die eiendom gemoderniseer is, deur die hele huis ervaar. Daar is ook 'n instapspens en aparte wasgoed-area. Die kombuis is prakties met 'n gasstoof toegerus.
Die private en suite-gastevleuel grens aan die groot TV-kamer met glas skuifdeure wat uitgaan op die agtertuin, waar die kinders na hartelus kan baljaar. Dit sou ook maklik as 'n private grootouervleuel gebruik en ingerig kon word.
Daar is 'n toesluitbare veiligheidsvleuel met drie ruim slaapkamers en twee badkamers. Die hoof en suite-slaapkamer is ekstra ruim met 'n reuse-instapkas, aparte stort, asook 'n bad en dubbele wasbak, en ook met luukse afwerkings opgeknap. Daar is verder 'n rits ekstra kaste bo en behalwe die reuse-instapkas, wat oorgenoeg pakplek gee vir hom en vir haar. Die linne-stoorkamer is prakties by al die kamers geplaas.
'n Reusebonus is die netjiese vyf-vertrek-buitegebou, wat veeldoelig vir kantore, gaste of as 'n drieslaapkamerwoonstel met eie badkamer en kombuisgeriewe gebruik sou kon word. Dit is perfek sou 'n mens dit as Airbnb wil inrig of as 'n buitewoonstel vir studenteverhuring, waar dit binne 'n gerieflike 15 minute stapafstand van Tuks is. Dit het ook 'n private tuin en braaigerief. Daar is verder veilige onderdakparkeerplek vir vyf voertuie en die algemene veiligheid van die eiendom is goed.
- Die woning is Saterdag tussen 11:00 en 14:00 op skou met aanwysers van Brooks-, Jan Shoba- en Rupertstraat.

Kortliks:
Adres: Brooksstraat, Brooklyn
Prys: R3 695 000
Erfgrootte: 1 276 m²
Gebouegrootte: Sowat 320 m²
Slaapkamers: 4
Badkamers: 3
Agent: Alleenmandaat. Heiberg Estates.
Kontak Bambie Heiberg by info@heibergestates.com of bel haar by 083 654 3773.














