Takel jou skuld as koerse byt

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
In ’n tyd van hoë rentekoerse soos nou, is dit altyd goed om jou duurste skuld eerste af te betaal. Foto: iStock
In ’n tyd van hoë rentekoerse soos nou, is dit altyd goed om jou duurste skuld eerste af te betaal. Foto: iStock (Dilok Klaisataporn)

Kopers én verkopers sal hul verwagtings moet aanpas, sê Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, na aanleiding van die hoë rentekoersvlakke wat ons beleef.

"Hoewel ons as eiendomsgroep al lank vra vir laer rentekoerse omdat dit die ekonomie sal help groei en die eiendomsmark sal stimuleer, is die realiteit dat die huidige hoë rentekoersvlakke nog 'n hele tyd lank met ons sal bly."

En hoewel Jan en alleman nie die rentekoerse kan verander nie, kan 'n mens wel 'n paar aanpassings maak om makliker daarmee te kan saamleef, verduidelik hy.

Verkopers sal byvoorbeeld hul verkoopprys in heroorweging moet neem. Met die hoë koerse is bekostigbaarheid al hoe meer onder druk, en mag jy dit moeiliker as normaalweg vind om jou ideale prys te haal.

En as jy weer 'n eiendom wil aankoop, sal jy mooi moet kyk na wat jou maandelikse paaiement gaan wees, en of jy dit sal kan bekostig. Bou eerder 'n klein "kussing" in, stel hy voor, sodat jy selfs nog 'n verhoging kan absorbeer.

"Die goeie nuus is dat die banke steeds geld leen," sê hy, "en dit boonop dikwels teen goeie koerse, as jy sou kwalifiseer."

Seeff stel voor 'n mens herbekyk jou begroting, en maak aanpassings waar nodig. Kyk waar kan jy van jou uitgawes besnoei, soos om van onnodige intekendienste ontslae te raak.

Jy kan ook weer rondsoek na goedkoper versekeringsdienste, stel hy voor.

Dan is dit ook altyd 'n goeie idee om jou skuld so gou moontlik te verminder. Probeer om elke maand 'n bietjie meer op jou skuld af te betaal as die gewone paaiement. Fokus ook eerste op die skuld wat die hoogste rentekoers het, soos kredietkaarte en winkelrekenings. Dit sal ekstra kontant losmaak vir jou waarmee jy dan ander skuld kan afbetaal.

Moet beslis nie nog skuld aangaan nie. Verlaag eerder jou maandelikse leefstyl-onkoste, sê hy. 'n Ander opsie is om die fondse in jou huislening te benut, sou jou lening dit toelaat. Sou jy so 'n lening hê, kan jy dit benut om 'n groot skuldrekening te delg.

Jy kan dit ook oorweeg om jou huis te herfinansier. Jou huis se markwaarde sal in aanmerking gebring en 'n nuwe verband sal geregistreer word.

Dit sal beteken jy het toegang tot nuwe geld waarmee jy die duur kredietkaarte mee kan afbetaal.

Laastens raai hy ook aan dat jy vroeër eerder as later met jou finansieringsdiens gaan gesels sou jy sukkel om by jou paaiement uit te kom. Bes moontlik is hulle gewillig om 'n nuwe paaiement vir jou te bied wat meer bekostigbaar is.

Volg hierdie roete betyds sodat jy nie diep in die knyp is en dan uit desperaatheid na 'n oplossing gaan soek nie, sê Seeff.

SPELETJIES VANDAG

CTA