Dit is welbekend dat die Wes-Kaap se plattelandse dorpe die afgelope tyd 'n groot trekpleister vir toeriste geword het met duisende besoekers wat elke jaar na dié gewilde bestemmings reis.
Maar toerisme is ook 'n groot aantrekkingskrag vir die eiendomsmark, sê Ian Badenhorst, besturende direkteur van Seeff Country & Karoo. Dié dorpe en hul toeriste-attraksies is dikwels ideaal vir kopers wat na die Kaapse platteland wil verhuis, maar wat nog nie seker is of hulle ekonomies aktief gaan kan bly nie.

Daar is verskeie maniere om voordeel te trek uit die huidige toerisme-mark, glo Badenhorst. Eerstens kan 'n mens bloot net na die platteland verhuis omdat jy graag in daardie rustige omgewing wil woon. En tweedens bied dit jou nou die geleentheid om jou eie, klein besigheid te begin.
Toerisme is 'n goeie inspuiting vir die kleiner dorpe. Dit bring nuwe gastehuise, restaurante, boetiek-wyn- en olyfplase, oudhede-winkels, kunsgalerye en talle meer.
'n Mens vind ook dat ouer en historiese eiendomme dikwels gekoop en dan opgeknap word om 'n nuwe Airbnb of gastehuis te word. Dit alles skep nuwe waarde vir die dorp.
Ná die onlangse Covid-pandemie is die Wes-Kaap nou weer in volle regruk-modus. Volgens die provinsie se toerisme-organisasie Wesgro, is die toerismegetalle reeds op dieselfde vlak as wat dit voor die pandemie was. Trouens, vir die komende somer word 'n uitskiet-vertoning in toerisme verwag. Wat ook die Wes-Kaap help, is dat hy talle buitelandse toeriste lok.
Omdat baie van hierdie toeriste ook die platteland besoek, is beleggings in 'n landelike leefstylontwikkeling altyd 'n goeie idee, sê Sonja Claassen, 'n agent by Seeff Ladismith.
Die toeriste hou veral van die Karoo, met die bekende Roete 62 wat talle besoekers lok.
Ladismith is een van die groei-nodusse in hierdie gebied. Een van die voorste beleggingsgeleenthede is die Towerkop-koffiewinkel by Eerstepos, wat tans in die mark is. Dit is 'n bekende gesig in die dorp op 'n prominente hoekerf.
Die historiese gebou beslaan 400 m2 en is pragtig gerestoureer. Die mooi rietdak-plafon is van binne af sigbaar, en daar is houtvloere, -deure en -vensters regdeur te vind. Die gebou is ook toegerus met twee sonpaneel-stelsels.
Die eiendom omvat 'n toegeruste koffiewinkel, deli en klein bed-en-ontbyt-perseel met twee kamers. Drie huurders wat kantore benut vir 'n haarsalon, musiekstudio en naelsalon, bied ekstra huurinkomste vir die eiendom. Die koopprys van R2,995 miljoen sluit alle restaurant-toerusting in.





















