Park Village Auctions (PVA) bied eersdaags 'n rug-aan-rug-veiling van twee uitsonderlike industriële eiendomme, elk met "puik beleggingsgeleenthede".
So sê Clive Lazarus van PVA, wat byvoeg dat eiendomme van hierdie kaliber nie dikwels beskikbaar gestel word nie.
Op Dinsdag 31 Oktober begin die eerste veiling om 11:30 by die Fairbanks- industriële park by Fairbanksstraat 6A.
Op die veilingsblok sal 'n ten volle verhuurde industriële park met ses individueel geregistreerde deeltitel-werkwinkeleenhede met kantore en ander verbeteringe wees. Hierdie eenhede is 'n minimum van 500 m² groot.
Volgens Lazarus is die eiendom goed in stand gehou en die ligging daarvan noordwes van die Vanderbijlpark-sakedistrik bied maklike toegang tot sowel die N1 as die R59, wat die gesogtheid daarvan nog verder verhoog.
Daarna verskuif die aksie na Daimlerstraat 28A, waar bieërs hul tande kan slyp vir 'n indrukwekkende industrieel-gesoneerde eiendom van 8 349 m² wat om 12:30 opgeveil sal word.
Hierdie eiendom spog met 'n losstaande tripel-volume werkwinkel wat onlangs opgerig is, 'n relatief ouer ingenieurswerkwinkel met kantore, 'n kompressorkamer, ablusiegeriewe vir personeel, onderdakparkeerplek vir sowat 36 voertuie en 'n groot terrein, benewens ander verbeteringe.
"Daimlerstraat 28A verleen homself tot staalwerke en verwante ingenieursprojekte. Die werkwinkel se grootte, die groot werf en toeganklikheid via Delfos-boulevard en die R57 suidwaarts na die Goue Hoofweg, maak dit veral geskik vir die ontwikkeling en verspreiding van groot masjinerie," sê Lazarus.
- Soos altyd beveel Lazarus aan dat die eiendomme besigtig word. Maak 'n afspraak daarvoor by 011 789 4375 of stuur e-pos na auctions@parkvillage.co.za. Gedetailleerde inligting ten opsigte van elke eiendom is op PVA se webwerf, parkvillageauctions.co.za, beskikbaar onder die onderskeie verwysingsnommers 1383 en 1384.





















