Die eiendom is in die stil, boomryke deel van Maraisstraat, in die veiligheidsbeheerde toegangsarea, geleë.
Die ligging is uiters ideaal waar 'n mens binne loopafstand is van die Laerskool Pretoria-Oos, Affies en die Universiteit van Pretoria, en binne 5 minute se ry van Pretoria se mees gewilde winkelsentrums, hospitale en snelweë.

Die eiendom bied uitsonderlike waarde vir geld waar daar twee luukse, moderne wonings gebou is of waar die tweede gebou net so veelsydig as luukse kantore aangewend kan word.
Die twee wonings funksioneer totaal onafhanklik van mekaar op die groot erf en die tweede bygebou wat tans as kantore ingerig en gebruik word, is as sulks ingerig met lugversorgingstoestelle, veselkabelverbindings en ook met eie badkamer- en kombuisgeriewe.
As byvoorbeeld 'n tweede familiewoning vir grootouers of kinders, sou dit gebruik kon word as 'n drieslaapkamerwoning met eie geriewe en bied dit 'n pragtige uitsig oor Klapperkop en Waterkloof.
Hierdie gebou het ook sy eie motorhuise en stoorgeriewe, en daar is volop en veilige addisionele parkering met puik veiligheid.

Die statige, moderne oogtrekker-hoofwoning wat pronk met ekstra hoë, soliede houtdeure en hoë plafonne, het 'n private ingang, topgehalte-afwerkings met dieselfde vloerteëls wat deurgaans gebruik word. 'n Mens kan letterlik net intrek en tasse uitpak.
Daar is drie aaneen vloeiende, ekstra ruim leefareas, 'n groot houtkaggel wat die sitkamer en die eetkamer diens, asook 'n reuseleefarea met gesellige koolstoof wat oopplan met die prakties en goed ontwerpte, moderne kombuis is. Die kombuis met sy pragtige uitsig oor Groenkloof is met Caeser Stone-werkoppervlakke toegerus en het sowel gas- as elektriese toebehore.
Daar is meer as genoeg stoorplek, asook 'n aparte opwaskamer. Die groot was-en-strykkamer is op die onderste vlak geplaas.
Van die minder formele leefareas stap 'n mens deur reuseglasskuifdeure na die netjiese tuin en swembadarea.


Die reusebraaiboma met sy eie pizzaoond is iets om van te droom en 'n mens kan maklik tot 40 mense hier onthaal, terwyl die kinders heerlik in en om die swembad op die groot grasperke baljaar.
'n Breë trap lei na die boonste private verdieping met studeerkamer, vier ekstra ruim slaapkamers met baie ingeboude kaste en vier luukse badkamers. Daar is ook 'n aparte gastekamer op die onderste vlak.
Van die kamers loop uit na twee reusesonstoepe wat ook ideaal kan wees om vroegoggend jou koffie te geniet en die koerant te lees. Daar is ook baie stoorgeriewe en 'n aparte huiswerkerkwartier.
Die algemene veiligheid is van hoogstaande gehalte en 'n kragopwekker van 45 kVA, twee watertenks en 'n besproeiingstelsel bied verdere toegevoegde waarde aan hierdie perfek geleë en veelsydige eiendom.
- Die woning is Saterdag tussen 11:00 en 14:00 op skou met aanwysers van Roper-, Cameron- en Maraisstraat.

Kortliks
Adres: Maraisstraat, Brooklyn
Prys: R7 700 000
Erf: 2 042 m²
Hoofgeboue: 649 m²
Bygebou: 234 m²
Slaapkamers: 4
Badkamers: 4
Agent: Heiberg Estates. Kontak Bambie Heiberg by info@heibergestates.com of bel haar by 083 654 3773.
















