Met die rentekoers wat hardnekkig hoog bly, is daar vandag beduidend minder kopers terwyl eiendomme ook veel langer in die mark kan wees alvorens hulle verkoop word.
Vir verkopers wat dus vinnig moet verkoop of trek, kan dit tot 'n dilemma lei, veral as daar boonop 'n verbandlening op die eiendom geregistreer is.
Eienaars wat sukkel om hul verbandlening terug te betaal, kan dit dus oorweeg om die eiendom te verhuur totdat hul finansiële posisie verbeter het. Die geleentheid om jou huis gedeeltelik of ten volle te verhuur, terwyl jy steeds die bate behou, is juis een van die voordele van eiendomsbesit.
Volg die regte stappe
Wat ook al die rede is, is dit belangrik dat jy die korrekte prosedures volg, volgens die Seeffeiendomsgroep .
Voor jy die finale besluit neem, moet jy eers bepaal hoeveel huur jy kan vra. Elke area het gewoonlik 'n tipiese gemiddelde prys. Hoe duurder die huur is, hoe moeiliker kan dit wees om 'n huurder te kry.
Bereken jou huur dus só dat jy binne die tipiese prysband van jou omgewing val, sou jy jou eiendom vinnig verhuur wou kry.
Deur jou huureiendom korrek te prys, sal jy nie net meer huurders kan lok nie, maar sal dit ook aansienlik makliker wees om jou huurders te behou en te voorkom dat hulle na ander veel goedkoper eiendomme begin soek nie.
Seeff sê dit is ook raadsaam om 'n paar rand opsy te sit in geval van nood. Jy moet ook voortgaan om die eiendom te verseker. As jy dit as gemeubileerd verhuur, moet jy die inhoud ook verseker. Verwyder enige waardevolle of sentimentele items vooraf.
Gaan huurders na
Die nagaan van huurders is wel kritiek belangrik. Kyk veral na 'n persoon se kredietwaardigheid en of hy die huur sal kan bekostig. Dis ook 'n goeie idee om 'n agtergrond-ondersoek te doen, sodat jy meer weet van die persoon wat in jou huis gaan intrek.
'n Sekuriteitsdeposito is noodsaaklik. Deesdae is enigiets meer as een tot twee maande die norm. Dit moet in 'n rentedraende rekening belê word tot voordeel van die verhuurder. Jy mag wel geen van die geld gedurende die huurkontrak gebruik nie. Eers aan die einde van die tydperk kan jy toegang tot die geld kry om enige agterstallige huur of skade te dek.
Seeff sê verder jy moet versigtig wees vir huurders wat aanbied om huur vir 'n aantal maande vooruit te betaal ten einde die aanbevole verifikasies te omseil.
Baie swendelaars gebruik dit om toegang tot huureiendomme te kry, maar dan kan dit dalk die laaste keer wees wat jy enige huurinkomste sien.
Korttermyn? Langtermyn?
Jy kan jou eiendom vir enige periode verhuur. Korttermynhuur is geneig om finansieel meer winsgewend te wees, maar hou 'n risiko in dat jy tye sonder 'n huurder kan sit. Die eiendom sal ook gemeubileer en met basiese benodigdhede toegerus moet word. Langtermyn-huurders is gewoonlik op soek na 'n ongemeubileerde eiendom. As jy nie jou meubels saam met jou na jou nuwe eiendom gaan neem nie, moet jy dit straks iewers stoor. In die algemeen moet die huurder volle gebruik van die eiendom hê, tensy hulle spesifiek saamstem dat jy byvoorbeeld goed in die motorhuis kan stoor.
'n Huurooreenkoms wat jou belange beskerm, en die pligte en verpligtinge van die verhuurder en huurder uiteensit, asook die gevolge van die verbreking van huurvoorwaardes en -prosedures moet deur albei partye opgestel en onderteken word, selfs al verhuur jy net 'n deel van die eiendom. Die kontrak moet die duur van die huurkontrak, die bedrag, en wanneer en hoe dit betaal moet word en gebruiksvoorwaardes van die eiendom uiteensit.
Indien dit 'n deeltitel is, moet die huurder 'n afskrif van die gedragsreëls kry. Maak seker dat jy spesifieke gedragsreëls uitwys, met betrekking tot parkering, besoekers en geraasbeperkings.
Doen inspeksie
'n Aanvanklike eiendoms-inspeksie moet gedoen word wat enige skade of defekte uiteensit en moet deur albei partye onderteken word.
Dit is raadsaam om die eiendom gedurende die huurperiode te inspekteer, maar dit moet met vooraf reëling met die huurder geskied.
Jy kan glad nie spaarsleutels gebruik om die eiendom te betree nie, en jy kan ook nie sommer net enige tyd by jou huurders opdaag nie. Wanneer die huurkontrak ten einde geloop het, moet nog 'n inspeksie gedoen word en met die eerste inspeksie vergelyk word.
Maak seker dat jy ook met 'n belastingkonsultant praat, want die huurinkomste sal aan belasting onderhewig wees.
Die inkomste moet by jou normale inkomste gevoeg word. Sekere uitgawes wat met die eiendom verband hou, kan egter afgetrek word. Besoek die SAID-webwerf vir meer inligting.
Wat sê die wet?
Hou in gedagte dat ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming die huurder die eiendom voor die einde van die huurkontrak kan ontruim, mits hulle behoorlik kennis gegee het soos in die wet uiteengesit.
As verhuurder sal jy egter geregtig wees om 'n redelike bedrag te hef om die koste van die verkryging van 'n nuwe huurder, enige verlies gely, asook enige herstelwerk wat nodig is, te dek.
Die bestuur van 'n huureiendom verg tyd en administrasie. Jy sal moet seker maak dat die huur betyds betaal word, en jy sal ook sekere papierwerk aan die huurder moet kan verskaf, soos 'n afskrif van die getekende huurkontrak, huurfakture ensovoorts.
Dit is belangrik om dadelik op te tree as die huur agterstallig is en om die regte stappe te volg. Om van 'n huurder ontslae te raak, kan in 'n nagmerrie ontaard in terme van tyd, spanning en koste.
Sou jy dit oorweeg om van 'n huuragent gebruik te maak, maak seker jy kies iemand wat 'n goeie reputasie en kennis van die area het.
Jy kan kies dat die agent slegs die verkryging van die huurder en dalk die inkomende inspeksie moet hanteer, of dat hulle ook die eiendom moet bestuur. Dit is veral nuttig as jy nie in die omgewing woon nie of baie besig is.


















