Of die glas halfleeg of halfvol is. Dít klink na die verskillende soorte verwagtinge wat eiendomskenners oor vanjaar se plaaslike eiendomsmark het.
Renier Kriek, besturende direkteur van Sentinel Homes, is een van dié wat glo die eiendomsmark kan sy vere regskud vir 'n stewige herstel in 2024. Hy grond sy optimisme op twee faktore.
Eerstens stem ekonome saam dat inflasie aan't verlangsaam is, met die Suid-Afrikaanse Reserwebank wat gevolglik die rentekoerse waarskynlik al teen Mei of Julie sal kan verlaag.
Tweedens is daar die verkiesing wat later vanjaar gehou word, wat dalk vir die eerste keer 'n koalisieregering op nasionale vlak teweeg kan bring.
Kriek sê dit kan Suid-Afrikaners bekommerd maak weens die onsekerheid en huiwerigheid in aanloop tot die verkiesing. Maar dit beloof ook nuwe geesdrif en 'n hupstoot om die land se probleme op te los.
Kriek glo sowel die verwagte laer rentekoerse as die uitslag van die verkiesing sal gunstig wees en kan 'n sneller wees om die opgehoopte vraag na eiendom los te laat wat in die agtergrond opbou. "Ons sal dan 'n drastiese toename in markaktiwiteit sien."
Ekonome van FNB meld wel dat rentekoerse hul spits bereik het, maar hulle verwag eers 'n stelselmatige verlaging teen die tweede helfte van die jaar.
Hulle waarsku daarby oor die volgehoue gevare soos verhoogde geopolitieke risiko in die buiteland, en patrone van uiterste weerstoestande. Dit kan die dalende neiging in die inflasiekoers pootjie. Gevolglik kan dit veroorsaak dat rentekoerse vir langer hoog bly as wat tans verwag word. Dit beteken ook die eiendomsmark sal vir langer swak bly.
FNB wys wel op data wat dui op 'n onderste draaipunt in huiskoop-aktiwiteite. Daar is tekens van groei in FNB se huisprysindeks, wat dui op 'n matige herstel vanaf die lae vlakke waarop dit was.

FNB klink dus nie heeltemal so optimisties soos Kriek nie, maar meen wel dat effe laer rentekoerse, beter ekonomiese groei en vordering met indiensneming kan help om 'n matige toename in die vraag na eiendom te steun. Dit kan teen die tweede helfte van die jaar tot beter eiendomspryse lei.
FNB se huisprysindeks het in Desember met 0,8% op 'n jaargrondslag gegroei, effens beter as November se 0,7% en ook beter as die 0,5% van Oktober.
FNB reken die jaarlikse groei in huispryse was vir die hele 2023 dus maar gemiddeld 1,5% - nou nie juis 'n belegging om oor opgewonde te raak nie.
Die effense groei in die laaste drie maande van verlede jaar dui op 'n moontlike einde van die insinking.
FNB se peiling onder eiendomsagente in die vierde kwartaal van verlede jaar dui ook op 'n effense draaipunt.
Maar eiendomsagente klink volgens die peiling se uitslae ook maar pessimisties, met net 31% van hulle wat 'n toename in verkoop-aktiwiteit in die eerste kwartaal vanjaar verwag, teenoor 50% wat in die derde kwartaal nog so optimisties was.
Die relatiewe pessimisme word toegeskryf aan veral die mark vir bekostigbare eiendom wat gedruk word deur lewenskoste wat styg, 'n gebrek aan werksekerheid en bekostigbaarheid.
Tot 53% van die agente sê voornemende kopers se inkomstevlakke is "ver agter" huispryse, teenoor 43% wat voorheen so gesê het.
Die gemiddelde tyd wat dit duur om 'n eiendom te verkoop was so te sê onveranderd in die vierde kwartaal, teen 11 weke en vier dae (81 dae), teenoor 82 dae in die derde kwartaal.
Dit duur nou drie maande of langer vir soveel as 63% van eiendomme om verkoop te word, teenoor 67% tevore.
Die grootste rede vir die verkoop van 'n huis in die vierde kwartaal was mense wat afskaal weens finansiële druk, met 24,7% wat dié rede aangee.
Die ander redes sluit in:
Afskaal weens lewensfase - 21,4%;
Trek na ander dorp of streek - 10,9%;
Verandering in gesinsgrootte - 10,8%;
Gradeer op - 10,1%;
Emigrasie - 8,2%;
Trek vir veiligheidsredes - 7,3%; en
Trek nader aan die werk of geriewe - 6,7%.
Kriek van Sentinel Homes sien ook ander neigings in die huismark wat vanjaar dopgehou moet word:
Slim geld in die mark:
Hy meen daar is tans heelwat slim geld in die mark - oftewel mense wat weet dit is 'n goeie tyd om te koop en wat winskopies soek.
Die rentekoerse op huislenings het al aansienlik gedaal omdat banke in 'n krimpende mark moet meeding, maar ook omdat die huidige slim kopers volgens hom in die algemeen ryker is, beter kredietrekords het en 'n laer kredietrisiko inhou. Dit is ook mense wat hoër deposito's kan betaal.
Semigrasie:
Dit is nie meer net na die gewilde Wes-Kaap waarheen mense van elders in die land wil verhuis nie. Kleiner dorpe elders lok steeds ryker huiskopers.
Meer as 80% van die bouplanne wat tans goedgekeur word, is in kusgebiede.
Saam koop:
Volgens Kriek is daar 'n toename in mense wat saam 'n eiendom koop. Dit is vriende, pare wat nie noodwendig getroud is nie, beleggers of sakevennote.
So 'n benadering oorbrug die gaping tussen huispryse en inkomste, en is 'n manier vir jonger mense om die huismark te betree deur die risiko onder mekaar te versprei.
Koop om te verhuur:
Al verbrand mense steeds hul vingers in die koop-om-te-verhuur-mark, is daar steeds groei in dié mark, veral in die Wes-Kaap.
Weens te min voorraad en hoër pryse aan die kus verkies baie mense wat van elders na die kus trek om eers te huur terwyl hulle wag vir die regte markseine.
Sommige huur terwyl hul nuwe huis gebou word.
Byna 11% van alle verbandaansoeke is tans vir beleggingseiendomme, wat hoër as die norm is, sê Kriek.
Kleiner eiendomme
Weens hoë boukoste krimp die grootte van erwe en eiendomme.




















