Eiendomme

Vraghouers al hoe meer gewild as wonings

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Katar se Stadium 974 is hoofsaaklik gemaak van skeepshouers. Die 22ste Fifa-Wêreldbeker-sokkertoernooi is hier gehou.Foto’s: iSTOCK
Katar se Stadium 974 is hoofsaaklik gemaak van skeepshouers. Die 22ste Fifa-Wêreldbeker-sokkertoernooi is hier gehou.Foto’s: iSTOCK

Skeepsvraghouers is staal­kubusse van verskillende groottes wat wêreldwyd gebruik word om goedere per skip mee te vervoer.

As gevolg van die modulêre aard van die vraghouers het hulle die afgelope tien jaar in gewildheid begin toeneem, veral omdat argitekte toenemend vindingryke maniere begin vind het om hierdie staalstrukture te omskep in leefbare ruimtes.

Katar se Stadium 974 is hoofsaaklik gemaak van skeepshouers. Die 22ste Fifa-Wêreldbeker-sokkertoernooi is hier gehou.Foto's: iSTOCK
Katar se Stadium 974 is hoofsaaklik gemaak van skeepshouers. Die 22ste Fifa-Wêreldbeker-sokkertoernooi is hier gehou.Foto's: iSTOCK

Die vraghouers word aangewend as 'n onderdeel van 'n wye verskeidenheid eiendomsontwerpe, hetsy in behuisingskomplekse, hotelle, koffiewinkels, woonhuise ensovoorts. Een van die bekendste eietydse strukture is sekerlik die sportstadion wat verlede jaar vir die Fifa-wêreldbeker in Katar opgerig is waarvoor onder meer 974 vraghouers deel van die ontwerp uitgemaak het.

In Japan het een van die land se bekende argitekte, Kengo Kuma, 29 houers gebruik om 'n Starbucks-koffiewinkel te skep.

Altesaam 29 vraghouers is gebruik om hierdie Starbucks-koffiewinkel in Japan te skep.
Altesaam 29 vraghouers is gebruik om hierdie Starbucks-koffiewinkel in Japan te skep.

Impak op die omgewing is laer

Die veelsydigheid van skeepsvraghouers as komponente van 'n boukonstruksie blyk duidelik uit die skooltjie wat deur Samsung in 2012 in Phomolong, 'n landelike gebied buite Johannesburg, opgerig is.

'n Twaalf meter lange skeepsvraghouer is omskep in 'n omgewingsvriendelike, mobiele klaskamer om die onderrig van 21 skoolgaande leerlinge moontlik te maak, en onder meer toegang tot digitale tegnologie te bied. Elektrisiteit is verskaf deur sonpanele wat op die dak van die vraghouer geïnstalleer is, en nege uur se krag per dag verskaf om onder meer die digitale apparatuur soos rekenaars, skootrekenaars en elektroniese witborde in die klaskamer van krag te voorsien. Voorts kan die klaskamer ook per vragmotor na 'n ander staanplek verskuif word indien dit nodig sou wees.

Die hergebruik van skeepsvraghouers as onderdeel van ander strukture het 'n betreklik volhoubare praktyk geword. Die grootste gedeelte van sodanige houers is van herwinbare materiale vervaardig. Hulle het 'n kleiner koolstofvoetspoor en ondersteun die groen ekologie. Die impak op die omgewing is laer in teenstelling met strukture van bakstene, sement en gewapende beton.

Die eerste skeepsvraghouer-woning is in 1987 deur 'n Amerikaanse argitek, Philip Clark, ontwerp en gebou. Deur die jare het skeepshouers wat omskep is in gewildheid begin toeneem, soveel so dat dit vandag sinoniem met argitektuur geword het en veral aansluit by die industriële argitektuur van die 21ste eeu.

'n Wanpersepsie bestaan egter dat hierdie argitektoniese konstruksies kostebesparend is. Daar moet nie buite rekening gelaat word dat hierdie donker, benoude vraghouers wat nie geïnsuleer is nie, en met beperkte afmetings, nie geskik is vir bewoning nie. Dit verg heelwat werk om die vraghouers te omskep in 'n konstruksie wat uiteindelik gemak en ruimte bied. Die koste is ook nie gering nie.

Om een skeepshouer aan te pas en herskep, kan slegs die houer en die materiaal in die omgewing van R160 000 kos. Dit sluit onder meer die volgende in: een vraghouer toegerus met een deur, een venster, een lugverkoelingseenheid, termiese insulasie, 'n rubbervloer, indien nodig, en waar van toepassing, moet die koste van die grond bygereken word.

Argiteksplanne van die beoogde toevoeging tot die eiendom, tesame met argiteksplanne van die bestaande eiendom, moet vir goedkeuring by die plaaslike munisipaliteit ingedien word, tesame met ander dokumente wat deur hulle aangevra word.

Om 'n konstruksie van enige aard met skeepsvraghouers op te rig, is ook nie sonder uitdagings nie. Die volgende wenke moet veral in gedagte gehou word voordat daar begin word met die bouery. Dit moet as goeie raad beskou word wat nie te versmaai is nie.

  • Besigtig die vraghouers voordat enige aankope gedoen word.
  • Bestee eerder ekstra geld op 'n vraghouer wat net een seereis onderneem het. (Die meeste vraghouers het slegs een reis onderneem, aangesien die koste te hoog is om leë vraghouers na hul adres van oorsprong terug te stuur.)
  • Wees vertroud met die munisipale reëls en regulasies wat op seevraghouers betrekking het voordat die projek aangepak word.
  • Maak gebruik van die gekonsolideerde dienste van 'n kontrakteur wat al die take van die projek hanteer.

As gevolg van hul hanteerbare grootte, is skeepsvraghouers geskik om bykomende ruimte tot 'n woonhuis te voeg. Omdat die sjarme van vraghouers veral in hul oënskynlike eenvoud lê, is dit vir argitekte moontlik om op vindingryke wyse met kreatiewe ontwerpe vorendag te kom.

As die finale produk die eienaar esteties nie bevredig nie, kan dit dalk sonder moeite op 'n vragmotor gelaai word en elders weer staan gemaak word.

  • Bezuidenhout is 'n eiendomskonsultant van Stellenbosch.
Gert Bezuidenhout

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM