Wat elke nuwe huiseienaar moet weet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jy het lank gesoek na daardie droomhuis of woonstel, en jou hand is al flou geskryf van handtekeninge maak op regsdokumentasie. Maar daar het jy dit nou: Jy's die eienaar van jou eerste eiendom. Veels geluk!

Maar voordat jy met jou voete op die stapel kartondose in jou nuwe huis gaan sit, sê Cobus Odendaal van die Lew Geffen Sotheby's International Realty-groep in Johannesburg, hou eers die volgende aspekte in gedagte.

'n Nuwe huis is die droom van menige. Daarmee saam kom daar egter ook baie en nuwe verantwoordelikhede. Konstante instandhouding is een aspek waarop jy die vinger gereeld moet lê. Foto: iStock
'n Nuwe huis is die droom van menige. Daarmee saam kom daar egter ook baie en nuwe verantwoordelikhede. Konstante instandhouding is een aspek waarop jy die vinger gereeld moet lê. Foto: iStock

"As 'n huurder was jou grootste verantwoordelikheid bloot om elke maand die huur en elektrisiteit te betaal. Die verhuurder was verantwoordelik vir dinge soos onderhoud, herstelwerk en heffings.

"Maar nou, as die eienaar van 'n nuwe eiendom, val al daardie dinge op jou eie skouers."

Hier is egter 'n paar stappe wat jou deur hierdie moeilike proses kan help neem.

1. Beplan en wees voorbereid:Een van die grootste skokke vir eerstekeer-huiseienaars is hoe duur dit nogal kan wees om 'n eiendom in stand te hou. Dinge breek, en moet herstel word. Dit beteken die onvoorsiene onkoste kan baie vinnig ophoop. Odendaal sê 'n goeie idee is om altyd so 1% tot 4% van jou huis se waarde per jaar in 'n noodfonds te belê wat jy slegs vir onderhoud en herstelwerk kan gebruik. Probeer om klein take self aan te pak, maar hou ook 'n lysie name byderhand van kontrakteurs wat jy vertrou.

2. Weet wat's als waar: Sodra jy ingetrek het, maak seker jy weet presies waar is dinge soos die afvoerpype, waar sit jy die warmwatersilinder af, en waar in die dak is die silinder geleë. As die geiser bars, moet jy kan raakvat.

Jy het min tyd om jou matte en meubels te red.

3. Maak maats met YouTube se selfdoen-kanale:Daardie eerste jaar van nuwe huiseienaarskap is sommer ook die ideale geleentheid om self 'n rits nuwe talente aan te leer. Soos hoe om 'n verstopte afvoerpyp oop te kry, 'n houtdek te seël, of nuwe deur­skaniere in te sit.

Nie net kan jy sodoende 'n hoop geld bespaar nie, maar ook meer vertroue kry as 'n nuwe huiseienaar. Selfhelp-video's op YouTube is 'n goue aar van hulpmiddels om nuwe take aan te leer.

4. Kry 'n noodfonds: Anders as die instandhoudingsfonds, kry ook 'n paar rand bymekaar vir 'n groot krisis sou dit gebeur, soos 'n warmwatersilinder wat gebreek het, of nuwe elektriese bedrading wat geïnstalleer moet word.

5. Leer ken jou huis se koste: Dit klink straks vreemd, maar probeer so gou moontlik uitvind wat jou huis se tipiese uitgawes is wat energie betref. Is jou huis oud, kan hy dalk meer elektrisiteit benodig om in die winter warmer te word met die lugversorger, en koeler in die somer. Jy kan dit dan oorweeg om die warmwatersilinder te isoleer of 'n sonverhitte warmwatersilinder op die dak op te rig. Klein kostebesparings kan op die lange duur 'n groot positiewe impak hê.

6. Elke seisoen het sy taak: Winterreën kan groot skade aan jou eiendom aanrig, net soos ons lang somermaande weer enige hout­rame behoorlik kasty.

Benewens hierdie take, gaan ook die huisalarm na een keer 'n jaar. Snoei daardie struik en boom wat die oprit toegroei, en maak die geute skoon.

7. Kry jou versekering in orde: Doen 'n bietjie navorsing en kry die huisversekering wat behoeftes die beste pas. Onthou ook om jou versekeraar in te lig as jy opknappings en verbeterings aan die eiendom gaan aanbring, aangesien dit die waarde kan beïnvloed.

"Om 'n eie huis te kan hê is vir baie mense 'n droom wat eindelik waar geword het. Dit kan wel 'n ongelooflike rit vorentoe wees, maar jy moet ook besef dat eienaarskap met baie verantwoordelikhede gepaardgaan," sê Odendaal. "Maar met die regte voorsorg en inligting kan jy al die slaggate suksesvol vermy."

SPELETJIES VANDAG

CTA