'n Uitsonderlik ontwerpte huis deur die bekende plaaslike argitek Stefan Antoni, in die eksklusiewe Bel Ombre-landgoed in Constantia in die Kaap se suidelike voorstede, is tans op die mark vir R107 miljoen.
Dit maak van die eiendom die duurste huis tot nog toe op die mark in die Constantia-woongebied.

Volgens die Lightstone-navorsingsdiens se syfers het eiendomspryse in hierdie gebied die afgelope tien jaar verdubbel.
Volgens Francois Venter, Constantia-spesialis vir die Seeff-eiendomsgroep, kom hierdie tipe huise selde op die mark. "Huis Zai is uitsonderlik ontwerp en vertoon ultra-modern."
Dis die eerste Stefan Antoni-ontwerp in die suidelike voorstede. Talle van sy eksklusiewe ontwerpe spog egter reeds aan die Atlantiese kusstrook en elders ter wêreld.
Die huis het 'n moderne voorkoms binne en buite en is deur 'n Belgiese bouer met ingevoerde materiaal gebou volgens die strengste Europese bou-standaarde en afwerkings. Dit sluit aspekte in soos isolasie, energiedoeltreffendheid en ekovriendelike stelsels.
Die vloeroppervlak beslaan 1 407 m2 en is gebou op 'n erf wat 'n massiewe 8 094 m2 beslaan. Die huis bied 'n treffende noordelike aangesig wat na die Constantia-berg kyk. Die ontwerp word gekenmerk deur skoon lyne en bied 'n gemaklike deurvloei van binne die leefvertrekke na die buite-areas, waar kuierstoepe, 'n swembad en groot landskaptuine jou verwelkom.
Daar is ses slaapkamers, met die hoofslaapkamer wat 'n gesonde 140 m2 beslaan. Daar is ook twee gastekamers, en 'n aparte gastewoonstel met sy eie leefarea, kombuis, private ingang en eie tuin.
Binne val die kombuis se ingevoerde Bulthaup-kombuiskaste dadelik op. Daar is ook Schüco-vensters en skuifdeure, en al die glas is dubbeldikte en van België ingevoer.
Die meubels is van die Roche Bobois-versameling en kan afsonderlik aangekoop word. Dis nogal 'n tendens wat met hierdie weeldehuise gevolg word, sê Venter. Die meubels word vooraf spesiaal vir die huis en sy uitleg gekies en pas dus perfek by mekaar.
Ondanks die klassieke voorkoms van die los items binne is die huis alreeds met die een voet in die toekoms, sê Venter. Die huis kan heeltemal sonder Eskom-krag steeds funksioneel wees, en het ook sy eie wateropvang-, berging- en besproeiingstelsel. Daar is ook 'n volledige sonpaneelstelsel op die dak.
Die sekuriteitstelsels is die jongste op die mark en van uitstekende gehalte. Die mure is volgens EU-standaarde gebou om hitte- en kouebestand te wees en die temperatuur regdeur die jaar dus gematig in die huis te hou.
Ook die vloere, plafonne en selfs die swembad is ten volle geïsoleer, met dubbeldikte vensters deur die hele huis.
Ander kenmerke sluit in 'n kragtige Bang & Olufsen-klankstelsel, vesel-internetverbinding en 'n tuiskantoor met sitplek vir ses mense.
Sekuriteitstelsels behels onder meer 'n gevorderde alarmstelsel, kameras, 'n heining reg rondom die erf, biometriese toegangsbeheer en staalskuifdeure by al die toegangspunte na die boonste verdieping om die boonste helfte van die huis ten volle te kan afsluit van enige gevaar.
Maar wie koop so 'n soort huis?
Volgens Venter is dit óf 'n baie suksesvolle entrepreneur, óf iemand wat baie suksesvol by 'n groot firma is. Dis ook 'n mengsel van plaaslike en oorsese kopers wat na so 'n eiendom sal kyk. Die huis is ook geleë in die sogenaamde Ambassadeurs-area, waar lande se ambassadeurs 'n woning sal bekom.
Dis veral kopers uit Duitsland, Brittanje en Amerika wat deesdae in eiendom in die Kaap belang stel. Die mense hou van die goeie gehalte van die huise, die lekker weer en gemaklike leefstyl, en die goeie waarde vir geld wat hulle hier kan kry met hul oorsese geldeenhede.
Constantia as 'n woongebied doen sedert die Covid-19-pandemie heel skaflik op die eiendomsfront, en soms selfs met beter groei as sy meer geroemde buurman, Clifton. Dis veral die groot erwe teenoor Clifton se kompakte erwe wat kopers na die suidelike voorstede lok, sê Venter.
Groter erwe beteken mooi boomryke tuine, en ook groter huise. Die huise is dan ook veel nader aan al die historiese wynplase, toprestaurante en goeie skole in die omgewing.
En laastens bied Kaapstad se regstreekse vlugte na Amerika en Europa nog 'n goeie rede vir buitelanders om hier eiendom aan te skaf: Vir Europeërs is dit net 'n oornagvlug terug na hul eiendom in Europa, sluit Venter af.

















