Eiendomme

Woning in Germiston ’n onthaler se droom

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Op 6 Julie sal Park Village Auctions (PVA) 'n uitsonderlike gesinswoning in Lambton, Germiston, per veiling van die hand sit.

So sê Clive Lazarus van PVA. Volgens Lazarus spog hierdie ruim woning met allerlei ekstras, wat dit "amper te goed maak om waar te wees".

Hierdie ruim gesinswoning spog onder meer met ’n verhitte swembad, tennisbaan en wonderlike onthaalareas. Moenie hierdie veiling misloop nie.Foto: PVA
Hierdie ruim gesinswoning spog onder meer met ’n verhitte swembad, tennisbaan en wonderlike onthaalareas. Moenie hierdie veiling misloop nie.Foto: PVA (SYSTEM)

"Dit het alles wat 'n gesin met 'n voorliefde vir onthaal moontlik wil hê en dan nog meer," sê Lazarus.

Cachetweg 3, Klippoortje-Noord, Lambton, staan op 'n massiewe erf van 3 129 m². Die perseel bestaan uit 'n hoofwoning met verskeie buitegeboue en geriewe, soos 'n tennisbaan en verhitte swembad met private ablusiegeriewe.

Op die grondvloer van die hoofwoning is 'n groot oopplansitkamer en TV-kamer, 'n formele sitkamer, 'n redelike groot eetkamer, 'n kombuis met 'n aparte opwaskombuis en ontbythoek, vier slaapkamers met twee badkamers (een is en suite) en 'n gastetoilet.

Op die boonste vlak is 'n tuiskantoor (of studeerkamer) en 'n onthaaldeel met 'n groot balkon wat oor die tennisbaan uitkyk.

Langs die huis is 'n grondvloer-dubbeltandemmotorhuis, wat ses motors kan huisves, onder 'n groot onthaaldeel met 'n ingeboude kroeg en 'n balkon op die eerste vloer. Langsaan is nog 'n buitegebou - 'n enkelverdieping-tandemmotorhuis, wat vier voertuie kan huisves, met ablusiegeriewe aan die agterkant van die gebou.

Die tuin spog met 'n groot onderdakdeel, sowat 80 m wyd, met braaigeriewe, 'n standaardtennisbaan, 'n groot verhitte swembad en private ablusiegeriewe met storte vir gebruik ná swem.

Lambton is 'n netjiese voorstad in die sentrale deel van Germiston­ oos van die Rand-lughawe met geriewe soos die Germiston Gold-klub, die Germiston High School, die Germiston-stadion, die Hoërskool Germiston, die Colin Mann Primary School, winkelsentrums en restaurante daar naby. Dié area bied maklike toegang tot die N17 en die Geldenhuys-wisselaar.

Die veiling sal op Donderdag 6 Julie om 11:00 op die perseel plaasvind. Besigtiging kan per afspraak gereël word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM