Ekonomie

BBP groei net-net aan die begin van 2025

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Chris Schoonwinkel, ’n graanboer van Wesselsbron in die Vrystaat, beskryf hierdie mooi toneel van ’n reënbuitjie wat oor sy jong mielies uitsak as “groot genade”.  Foto: Chris Schoonwinkel
Chris Schoonwinkel, ’n graanboer van Wesselsbron in die Vrystaat, beskryf hierdie mooi toneel van ’n reënbuitjie wat oor sy jong mielies uitsak as “groot genade”. Foto: Chris Schoonwinkel

Die vrees dat Suid-Afrika se ekonomie aan die begin van die jaar ingekrimp het, is afgeweer, maar dit was hittete.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die bruto binnelandse produk (BBP) in die eerste kwartaal met net 0,1% gegroei teenoor die laaste kwartaal van 2024.

Vergeleke met 'n jaar gelede is die BBP 0,8% groter, in reële waarde.

Landbou, met 15,8% groei, het 'n positiewe bydrae van 0,4 van 'n persentasiepunt gelewer, maar was een van net vier uit 10 sektore wat wel in die kwartaal gegroei het.

Dit kom nadat landbou in die derde kwartaal van 2024 die rede vir negatiewe groei was toe dit teen -20,5% gegroei het. Dit het wel weer in die vierde kwartaal met 17,7% opgeskiet.

Landbou verteenwoordig sowat 3% van die ekonomie en daarom is selfs die sterk groei so 'n lae persentasiepunt (0,4).

Sonder landbou se groei sou die ekonomie egter met -0,3% gegroei het, volgens SSA.

Ses sektore in 'n resessie

Hoewel die ekonomie as geheel positief groei, is nie minder nie as ses uit die tien sektore wat SSA meet, wel in 'n resessie, wat gedefinieer word as twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe groei.

Vyf van dié ses het in die eerste kwartaal van die jaar in 'n resessie inbeweeg: mynbou, vervaardiging, nutsdienste, konstruksie en persoonlike dienste.

Die staatsdiens het die derde kwartaal van negatiewe groei beleef.

Aan die ander kant is vervoer en kommunikasie ná vier kwartale van negatiewe groei uit sy resessie uit.

Waar die probleme lê

Vervoer en kommunikasie het die tweede sterkste, met 2,4%, gegroei.

Mynbou en vervaardiging was persentasiegewys die grootste remskoene. Mynbou het met 4,1% ingekrimp en vervaardiging met 0,2%. Albei het 0,2 van 'n persentasiepunt van BBP-groei afgetrek.

Die volledige groeisyfers vir die 10 bedrywe is soos volg:

• Landbou: 15,8%

• Vervoer, berging en kommunikasie: 2,4%

• Handel, spyseniering en verblyf: 0,5%

• Finansiële, eiendoms- en sakedienste: 0,2%

• Staatsdiens: -0,2%

• Persoonlike dienste: -0,3%

• Vervaardiging: -2%

• Nutdienste: -2,6%

• Konstruksie: -3,8%

• Mynbou en steengroewe: -4,1%

Besteding op die BBP

Besteding op die BBP, die ander kant van die vergelyking, het ook met net 0,1% gegroei.

Huishoudings se besteding het met 0,4% gegroei en 0,3 van 'n persentasiepunt bygedra.

Vastekapitaalvorming het met 1,7% verminder, wat 0,2 van 'n persentasiepunt afgetrek het. Vastekapitaalvorming word beskou as die enigste manier om langtermyngroei te versnel. Die afgelope sewe kwartale was daar nog net een kwartaal waarin vastekapitaalvorming positiewe groei getoon het.

Die volledige lys is:

• Invoer: 2%

• Uitvoer: 1%

• Huishoudelike besteding: 0,3%

• Staat se verbruiksbesteding: -0,1%

• Vastekapitaalvorming: -1,7%

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM