Ekonomie

Klereverkope verras weer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Klereverkope in winkels het in Februarie ’n tendens van goeie groei voortgesit. Foto: Unsplash
Klereverkope in winkels het in Februarie ’n tendens van goeie groei voortgesit. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners was die afgelope somer mooi uitgevat, te oordeel na rekordstygings in die verkope van klere en skoene.

In Februarie was die verkope van klere en skoene 'n stewige 15,7% meer as 'n jaar tevore, nadat dit in Januarie (10,1%) en November (11,6%) ook in dubbelsyfers opgeskiet het, volgens Statistieke Suid-Afrika.

Klereverkope het in Februarie die grootste positiewe bydrae, van 2,3 persentasiepunte, tot die 3,9%-jaarstyging in verkope by alle winkels gelewer.

Tussen Januarie en Februarie het verkope wel met 1,3% gedaal.

Die jaargroei in klereverkope was die hoogste van alle kategorieë, maar verkope van meubels en huishoudelike toestelle was ook indrukwekkend op 6,7%.

Die grootste negatiewe groei in verkope was die 4,1% waarmee die verkope van ysterware, verf en glas gedaal het teenoor Februarie 2024.

Die syfers dui daarop dat verbruikers nog voordeel trek uit tweepotgeld, die laer rentekoers en laer inflasiekoers. Dit het 'n hele paar maande geneem voordat die laer rentekoers mense se koopkrag ondersteun het - moontlik omdat mense nou weer toegang tot krediet kan benut nadat hul skuldlas verminder het.

Verskeie peilings in die laaste paar maande het getoon dat tweepotgeld meestal gebruik is om skuld te verminder.

'n Standard Bank-peiling wat pas gepubliseer is, wys dié bank se kliënte het wel minder aan klere bestee in Februarie teenoor 'n jaar gelede.

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM