Planne is op die tafel vir 'n Suid-Afrikaanse biometriese oftewel e-paspoort, het Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, dié week herhaal.
Hy het al in September gepraat oor die plan om dit moontlik te maak om aanlyn vir 'n ID of paspoort aansoek te doen eerder as om 'n dag af te staan om in die lang rye by die meeste kantore van die departement van binnelandse sake te gaan staan.
LEES OOK | ‘ID binne sekondes' deel van Schreiber se digitale planne
Dit kom in dieselfde week waarin Suid-Afrika vir die eerste keer in 'n dekade onder die top-50-lande van die gesaghebbende Henley-paspoortindeks gelys word. Die land het vyf plekke op dié wêreldranglys vanaf 53ste plek in 2024 tot 48ste plek aan die begin van 2025 geklim.
Die indeks meet die "gesogtheid" van 'n land se paspoort deur vas te stel hoeveel lande visumvry deur burgers van 'n spesifieke land besoek kan word. Suid-Afrikaners kan in 2025 visumvry na 106 lande reis.
Schreiber sê in reaksie hierop in 'n verklaring die betreklike verbetering in die sterkte van Suid-Afrika se paspoort is "net die begin" aangesien dit met die hervormingsproses binne die departement van binnelandse sake self saamval. Dít hou verband met die digitale transformasie van alle prosesse van die departement.
"Deur ten volle te digitaliseer en die proses buite bereik te plaas van bedrog en manipulasie, sal die proses om magtigende dokumente, insluitend paspoorte, te verkry, die integriteit van ons dokumente aansienlik verbeter."
Die jongste Henley-paspoortindeks beklemtoon volgens hom ook die wêreldwye skuif na die digitalisering van visumprosesse wat 'n kritieke komponent van die departement se hervormings is.
"Die voorgestelde teikens van die departement van binnelandse sake vir die mediumtermynontwikkelingsplan wat die werk van die sewende administrasie sal lei, sluit in die bekendstelling van biometriese of ‘e-paspoorte' waarin 'n mikroskyfie ingebed is om die biometriese inligting van Suid-Afrikaanse reisigers te waarmerk," sê Schreiber.
"Ons planne om 'n e-paspoort bekend te stel en ook om ander dokumente en paspoortprosesse vir Suid-Afrikaners en visumprosesse vir buitelanders digitaal te maak, sal saam daartoe bydra dat die sterkte van ons paspoort oor die komende jare betekenisvol sal verhoog."
















