Die rand het Woensdagmiddag teen 13:00 tot selfs R17,86 teen die dollar versterk te midde van plaaslike optimisme én druk op die dollar.
Dinsdag het die rand die eerste keer sedert 16 Desember, meer as vyf maande gelede, onder R18 teen die dollar op R17,90 gesluit.
Daarna het dit Woensdag tot selfs R17,86 versterk.
Enoch Godongwana, minister van finansies, lewer om 14:00 sy begrotingsrede en dien die fiskale raamwerk by die parlement in.
Dis die derde begroting wat deur die tesourie voorberei word ná onmin in die regering van nasionale eenheid oor die vorige twee pogings.
Dis nou drie maande sedert die aanvanklike begroting op 19 Februarie geskrap is.
André Cilliers, valutastrateeg van TreasuryOne, sê die rand het ook versterk danksy skerp stygings in die prys van edelmetale soos goud, platinum en palladium.
Daar is ook optimisme oor die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die VSA. Pres. Cyril Ramaphosa vergader om 17:30 Suid-Afrikaanse tyd met pres. Donald Trump.
Die dollar is onder druk omdat Trump se belastingwet moontlik teenstand in die kongres gaan kry en omdat handelspanning tussen die VSA en China hoog bly.





















