Berigte dat Suid-Afrikaanse Toerisme (SAT) die risiko loop om 'n 80%-begrotingsurplus weens onderbesteding aan die tesourie te verbeur, is nie akkuraat nie, sê dié staatsentiteit.
Teen einde Desember is 72% van SAT se jaarlikse begroting reeds bestee, "wat ons toewyding aan die optimalisering van ons begroting bewys", sê Nombulelo Guliwe, uitvoerende hoof van SAT, in 'n verklaring wat Dinsdag uitgereik is.
Dit kom 'n dag nadat die DA geëis het dat Patricia de Lille, minister van toerisme, SAT onder administrasie plaas weens sy beweerde onvermoë om sy begroting te bestee.
City Press het Sondag berig SAT sal moontlik sowat R800 miljoen van sy jaarlikse begroting van R1,2 miljard aan die tesourie moet teruggee omdat hy dit nie gebruik het nie.
SAT word luidens dié berig ook gekritiseer omdat hy sloer om 'n internasionale bemarkingsagentskap aan te stel om Suid-Afrika in die buiteland te bemark.
Dit kom te midde van beweerde ongerymdhede met die aanstelling van 'n diensverskaffer om Meetings Africa en die Africa's Travel Indaba te reël. Meetings Africa vind van 24 tot 26 Februarie in die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg plaas en Africa's Travel Indaba word van 12 tot 15 Mei in die Inkosi Albert Luthuli-konvensiesentrum in Durban gehou.
SAT word daarvan beskuldig dat hy die R100 miljoen-kontrak vir albei geleenthede toegeken het aan 'n maatskappy wat nie die nodige ondervinding het om die werk te doen nie.
Die maatskappy is volgens City Press nie geregistreer op die staat se sentrale databasis vir diensverskaffers nie en SAT is opdrag gegee om die tender te kanselleer en te heradverteer.
Hieroor sê Guliwe in Dinsdag se verklaring: " 'n Onafhanklike ondersoek is in Desember van stapel gestuur na hierdie tender . . . die tender is nie aan enigiemand toegeken nie."
Die jongste onthulling van ernstige onderbesteding is skokkend inaggenome die lewensbelangrikheid van toerisme in ons ekonomie.
— Haseena Ismail, DA-LP
Haseena Ismail, DA-LP, het in Maandag in reaksie op City Press se berig gesê "dit is die laaste strooi" dat SAT glo meer as tweederdes van sy begroting aan die tesourie moet teruggee. Die DA eis dat De Lille SAT onder administrasie plaas.
"Die jongste onthulling van ernstige onderbesteding is skokkend inaggenome die lewensbelangrikheid van toerisme in ons ekonomie, veral gedurende die piekseisoen, asook die beperkte finansiering wat beskikbaar is aan die regering."
Boonop het SAT volgens Ismail nie 'n stabiele direksie nie sedert die debakel oor die beoogde R1 miljard-borgskap aan die Engelse sokkerklub Tottenham Hotspur. SAT is te midde van openbare verontwaardiging in 2023 deur die parlementêre portefeuljekomitee oor toerisme opdrag gegee om dié transaksie te staak "omdat dit nie toerisme sou bevorder nie".
Guliwe sê egter SAT bly "standvastig in sy verbintenis tot goeie bestuur en etiese praktyke".
Die pas aangestelde bedryfshoof het op 7 Januarie begin werk en die werwingsproses vir die finansiële hoof en hoof- interne ouditeur is aan die gang.
SAT bevorder volgens Guliwe Suid-Afrika aktief in sleutelmarkte met spanne wat veldtogte plaaslik en internasionaal dryf. Die proses om 'n wêreldwye bemarkingsagentskap aan te stel duur voort en die entiteit is daartoe verbind om die integriteit van alle verkrygingsprosesse te handhaaf.
Die toerismesektor groei luidens die verklaring stewig. Van Januarie tot Oktober 2024 het die land 7,2 miljoen besoekers verwelkom - 5,7% meer as in die ooreenstemmende tydperk die vorige boekjaar. Vroeë aanduidings is ook dat toerisme 'n goeie feestyd agter die rug het.


















