'n Skrywer en vertaler wat 'n enorme bydrae daartoe gelewer het om saketerminologie in Afrikaans te ontwikkel en te standaardiseer is die naweek oorlede.
Johan Geldenhuys, skrywer van die Sakewoordeboek saam met Bittie Viljoen-Smook, is Saterdag in die ouderdom van 77 dood.
Hy het die Sakewoordeboek die eerste keer in 1991 uitgegee en dit is minstens vier keer hersien en uitgebrei. Die vierde, hersiene en uitgebreide uitgawe is in 2003 deur Pharos Woordeboeke uitgegee as die Nuwe Sakewoordeboek.
Dit is 'n omvattende Afrikaans-Engels-sakewoordeboek wat vertalings van Engelse saketerme in Afrikaans bied.
Geldenhuys is op 6 Augustus 1947 in Johannesburg gebore en het in 1971 by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit 'n meestersgraad in Engels behaal. Hy het eers onderwys gegee en is in 1979 as hoof van taaldienste by die destydse Nedcor-groep aangestel. Hy was later die hoof van die Nedbank-groep se dokumente-afdeling.
Volgens NB Uitgewers het Geldenhuys altesaam vyf sakewoordeboeke, 'n vertaalhandboek en 'n Engelse stylgids gepubliseer.
Een van sy publikasies is Business Writing for South Africans, 'n gids vir mense in die sakebedryf wat tegniese skryfwerk, die opstel van voorstelle, aanbiedings en verslae en die skryf van briewe, e-pos-boodskappe en notules onder die knie wil kry.
Hy was onder meer 'n lid van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde se komitee vir terminologie en ander taalhulpbronne, die Sentrum vir Regsterminologie in Afrika-tale en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Hy word deur sy vrou, Sonette, en drie kinders oorleef.
















