'n Bier is onmisbaar by 'n Suid-Afrikaanse braai en dra nie net mildelik by tot 'n groter boepens nie, maar ook tot die land se ekonomie.
Oxford Economics, wat 'n studie oor die bydrae van bier op Suid-Afrika se ekonomie in 2023 gedoen het, het bevind die plaaslike bierbedryf het in dié jaar sowat R96 miljard tot die land se BBP bygedra.
Dié bedrag sluit R56,5 miljard in belastinginkomste in. Die bedryf het ook 209 000 werkgeleenthede ondersteun.
Die studie, wat deur die World Brewing Alliance (WBA) aangevra is, het die wêreldwye ekonomiese voetspoor van die bierbedryf in 2023 ontleed. Oxford Economics het met die studie komplekse skakels van die interaksie tussen bierbrouers, verspreiders, verkopers en al die ander maatskappye in bier se globale waardeketting nagespoor.

Bydrae tot die ekonomie
In Suid-Afrika het bierbrouers se bydrae tot die ekonomie in 2023 altesaam $4,3 miljard beloop, terwyl die afwaartse waardeketting R900 miljoen bygedra het.
Bier het in 2023 deur verskeie sektore, waaronder die groot- en kleinhandel, die finansies-en-versekeringsektor, ander sakedienste, die landbousektor en die gasvryheidsbedryf 'n bydrae tot die BBP gelewer.
Werkskepping
210 000 poste is deur die bierbedryf in Suid-Afrika ondersteun. Hiervan is 150 000 ondersteun deur bierbrouers en 62 000 in die afwaartse waardeketting.
Groot- en kleinhandel, die gasvryheidsbedryf, landbou, bierbrouers asook vervoer en berging is van die sektore wat tot werkgeleenthede bygedra het.
Belasting
Die wêreldwye bierbedryf was verantwoordelik vir $3,9 miljard se belastinginkomste in Suid-Afrika. Dit het bestaan uit bierbrouers ($600 miljoen), die afwaartse waardeketting ($100 miljoen) en verkoopsbelasting ($3,1 miljard).
Justin Kissinger, president en uitvoerende hoof van die WBA, sê in 'n verklaring die bierbedryf het 'n groot positiewe impak op die wêreldwye ekonomie en ondersteun 'n robuuste waardeketting wat boere, bottelarye, verspreiders en die gasvryheidsbedryf insluit.
"Wat bier uniek maak, is dat dit diep gewortel is in sy plaaslike markte, en plaaslike ekonomieë en gemeenskappe ondersteun."
Die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) het die plaaslike arm van die navorsing ondersteun. Charlene Louw, uitvoerende hoof van Basa, benadruk hoe noodsaaklik die bedryf vir Suid-Afrika is. Sy sê die bedryf dryf nie net ekonomiese groei aan nie, maar sit ook kos op die tafel vir duisende Suid-Afrikaners.
"Terwyl die oorhoofse ekonomiese impak van die bierbedryf voortgaan om te groei, erken ons die behoefte om indiensneming te ondersteun in 'n mark wat vinnig ontwikkel. Ons fokus is daarop om met beleidsmakers en rolspelers in die bedryf te saam werk om 'n omgewing te skep wat die behoud van werk en nuwe geleenthede in die sektor aanmoedig.
"Die bevindinge herbevestig die bierbedryf se posisie as 'n sleuteldrywer van ekonomiese aktiwiteit in Suid-Afrika wat sakeondernemings, gemeenskappe en lewensbestaan in die land ondersteun."
- philda.essop@24.com










