Suid-Afrika se uitvoer na Iran - deesdae 'n mede-Brics-lidland - het verlede jaar 'n skrale R360 miljoen beloop.
Dis net 0,02% van Suid-Afrika se totale uitvoer van sowat R2 040 miljard.
John Steenhuisen, minister van landbou, het vandeesweek op 'n mediakonferensie saam met Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, gesê 'n handelsooreenkoms is met Iran beklink vir die uitvoer van Suid-Afrikaanse bees- en lamsvleis.
Hy het nie daarop uitgewei nie en sy opmerking het geen opslae gemaak nie. Meer aandag is gegee aan die vyf ooreenkomste om steenvrugte - pruime, perskes, nektariens, appelkose en pruimedante - na China uit te voer. Dié ooreenkomste gaan na verwagting op die G20-beraad onderteken word.

LEES OOK | VSA sal aanhou SA avo's eet - en China proe dalk gou ons perskes
Kort ná dié nuus het Suid-Afrika se noue betrekkinge met Iran egter hoofopskrifte gehaal toe genl. Rudzani Maphwanya, hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), glo "politieke gesprekke" met die Iraniërs gevoer het toe hy in Teheran was "om militêre en strategiese samewerking tussen die twee lande te bevorder".
Vincent Magwenya, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, beskryf die besoek as geheel "onwys" in ag genome voortslepende onderhandelinge oor invoertariewe met Amerika. "Ons is in 'n proses om 'n baie delikate situasie te bestuur om diplomatieke betrekkinge met Amerika te herstel."
LEES OOK | Ramaphosa ‘sal met weermaghoof praat' oor ‘onwyse' besoek aan Iran
"Dis onaanvaarbaar dat Suid-Afrika, terwyl ons ekonomie toegang tot internasionale markte broodnodig het, kies om betrekkinge met lande soos Iran - wat internasionaal geïsoleer is weens sy beleid en optrede - te versterk," sê Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, oor Maphwanya se besoek aan Iran.
Dit het die vraag laat ontstaan of Iran 'n belowende mark vir Suid-Afrika se produkte is.
Suid-Afrika se grootste uitvoerproduk na Iran is lewende diere, vleis, suiwel en vis - sowat R229 miljoen van die totale R360 miljoen, dus sowat 64%. Dit word gevolg deur voertuie en onderdele (R75 miljoen) en mediese en fotografietoerusting (R20 miljoen).
Suid-Afrika voer meer as R120 miljard se produkte na Amerika uit, wat 5,9% van 2024 se totale uitvoer beloop het. Hiervan was R55 miljard edelmetale soos goud en platinum, en R35 miljard was voertuie en onderdele.
Hoe ekonomieë vergelyk
Iran se ekonomie is groter as dié van Suid-Afrika, maar sy mense is armer.
Volgens die Wêreldbank was Iran se bruto nasionale inkomste (BNI) in 2024 sowat $426,4 miljard en die BNI per capita $4 660.
Suid-Afrika se BNI was $390,4 miljard en die BNI per capita was $6 100.
Ekonomiese groei in Iran was 5% in 2023 en 3,5% in 2024, maar vir 2025 word net 0,3% voorspel.
Suid-Afrika se ekonomiese groei was 0,7% in 2023 en 0,6% in 2024. Vir 2025 voorspel die Reserwebank 0,9% en die Internasionale Monetêre Fonds 1%.
Daarteenoor is die Amerikaanse ekonomie $28 455,1 miljard werd en die BNI per capita is $83 660.
BNI is die land se bruto binnelandse produk, dus alle produksie in die land, asook die verskil tussen geldoordragte wat landuit gaan en inkom.





















