Ekonomie

Só lyk transformasiefondse landwyd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: GCIS
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: GCIS

Miljarde rande is reeds aan transformasiefondse bestee om die deelname van swart Suid-Afrikaners aan die ekonomie te bevorder en talle is reeds daardeur bemagtig.

Minstens drie staatsdepartemente bestuur tans hul eie transformasiefondse.

Dit blyk uit 'n antwoord van Enoch Godongwana, minister van finansies, op 'n parlementêre vraag van Toby Chance, DA-LP, wat by hom wou weet of die minister as die beskermheer van die nasionale fiskus rekord hou van al die transformasiefondse in die verskeie ekonomiese sektore.

Die vraag kom te midde van skerp kritiek teen die nuwe voorgestelde transformasiefonds van R100 miljard - 'n gesamentlike projek van die regering en die private sektor.

Geen sentrale rekord van fondse

Godongwana het gesê die nasionale tesourie hou nie 'n gesentraliseerde rekord van al die transformasiefondse in die verskillende sosio-ekonomiese sektore nie. Dié fondse is nie in die nasionale inkomstefonds nie.

Elke staatsdepartement bestuur volgens Godongwana sy eie transformasieverwante programme.

Die volgende departemente het transformasiefondse:

Departement van handel, nywerheid en mededinging

Die departement ontwikkel tans 'n nuwe transformasiefonds. Dit is daarop gemik om die regulasies van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) toe te pas en af te dwing. 'n Konsepdokument is vir openbare kommentaar gepubliseer.

"Geen spesifieke finansiering is daaraan toegeken nie. As finansiering uit die fiskus nodig is, moet dit deur die standaardbegrotingsproses gaan," lui Godongwana se antwoord.

Swart Nywerheidsfonds

Benewens die BGSEB-regulasies administreer die departement ook die Swart Nywerheidsfonds. Die fonds word deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en die Nasionale Bemagtigingsfonds bestuur om die deelname van swart Suid-Afrikaners te verhoog in die eienaarskap en beheer van produktiewe ondernemings in belangrike sektore en waardekettings in die ekonomie.

Oor die afgelope ses jaar is R35 miljard goedgekeur en R23 miljard uitbetaal om 972 nyweraars te ondersteun wat in die proses 167 244 werke onderhou het, lui Godongwana se antwoord.

Departement van energie en elektrisiteit

Prioriteite in die meesterplan vir hernubare energie stel voor dat transformasie bereik kan word deur aankope van die private sektor.

"Daar word voorgestel dat mededingingskapitaal beskikbaar gestel word aan nuwe toetreders in vervaardiging, dalk deur 'n transformasiefonds. Dit kan deur middel van meganismes soos die regering se verkrygingsprogram vir hernubare energie vir onafhanklike kragprodusente (REIPPPP), of vrywillige bydraes geskied. Aangesien die fonds nog nie gestig is nie, is geen onttrekkings gedoen nie. Die nasionale tesourie het ook nog nie enige korrespondensie van die departement ontvang oor die totstandkoming van die fonds nie," lui Godongwana se antwoord.

Departement van toerisme

Die departement administreer twee beduidende fondse wat gemik is op die bevordering van transformasie in die sektor.

Toerisme-transformasiefonds

Dié fonds word deur die Nasionale Bemagtigingsfonds bedryf en verskaf finansiële bystand aan toerismeondernemings waarin swart mense 'n meerderheidsaandeel het vir sakeontwikkeling en uitbreiding. Die departement van toerisme het sedert die aanvang van die fonds R220 miljoen bygedra tot die kapitalisering daarvan. Sowat 29 aansoeke is sedert 31 Maart 2025 goedgekeur.

Toerisme-gelykheidsfonds

Dié fonds word deur die kleinsakeontwikkelings- en finansies-agentskap (SEDFA-SEFA) bestuur. Die fonds ondersteun swart entrepreneurs in die aankoop of stigting van toerismeondernemings. Dit word sedert 2017 gekapitaliseer met R599,6 miljoen in bydraes deur die staat en finansiering deur die private sektor. Sowat 24 aansoekers is sedert Desember 2024 goedgekeur.

Nie een van die fondse word met deurlopende jaarlikse begrotingstoewysings bedryf nie. Pleks daarvan word finansiering toegeken soos wat dit benodig word deur die departement se begroting, onderhewig aan beskikbaarheid en belyning met nasionale strategiese prioriteite.

Departement van arbeid

Die Agri-SEB-fonds is in 2006 deur die kabinet gestig met 'n aanvanklike kapitaalbedrag van R47 miljoen. Teen die 2009-'10-boekjaar het die waarde daarvan tot R195 miljoen verhoog. Die doelwit van die fonds was om finansiering vir ekwiteitsbeleggings te verskaf wat die toetrede en deelname vir swart mense in die hele landbouwaardeketting bevorder. Dit is hoofsaaklik om mense van voorheen benadeelde agtergronde in staat te stel om 'n aandeel in bestaande landbou-ondernemings te bekom. 'n Bedrag van R146 miljoen is oor die 2025-mediumtermynbestedingsraamwerk aan dié fonds toegewys.

Geen bykomende transformasiefondse word volgens Godongwana beplan nie. Die departement van toerisme is besig met 'n hersiening van al die programme onder die Toerisme-aansporingsprogram.

"Toekomstige toewysings of die bekendstelling van nuwe fondse sal bepaal word gegrond op die resultate van die hersiening," lui sy antwoord.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM