Die ministers van finansies en sentralebankhoofde van die G20-lande het hulle opnuut daartoe verbind om multilaterale samewerking te versterk om aandag te gee aan bestaande en ontwikkelende risiko's vir die wêreldekonomie.
Dit volg op die derde vergadering van dié G20-ampsdraers wat op 17 en 18 Julie in Durban gehou is.
Die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank, onder die gesamentlike voorsitterskap van Enoch Godongwana, minister van finansies, en Lesetja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank, was die gasheer van hierdie vergadering.
Die finansministers en sentralebankhoofde het op die eerste dag van die vergadering die uitdagings erken wat konflikte, geopolitieke en handelspanning, ontwrigtings aan internasionale voorsieningskettings, hoë skuldvlakke en gereelde uiterste weerstoestande en natuurlike rampe inhou, asook die impak wat dit op ekonomiese groei sowel as prys- en finansiële stabiliteit het, het die nasionale tesourie en die Reserwebank ná afloop die vergadering in 'n verklaring gesê.
Langtermyn-groeipotensiaal
Dié G20-groep het ooreengekom om die wêreldekonomie se langtermyngroeipotensiaal te ondersteun deur groei-georiënteerde makro-ekonomiese beleid na te jaag.
Terselfdertyd sal hulle ook fiskale buffers bou, fiskale volhoubaarheid verseker, openbare en private beleggings aanmoedig, hervormings deurvoer om produktiwiteit te verhoog en die onafhanklikheid van sentrale banke beskerm om prysstabiliteit te handhaaf.
Die ministers en sentralebankhoofde het opnuut onderneem om multilaterale samewerking te versterk om bestaande en ontwikkelende risiko's vir die wêreldekonomie te takel.
Erkenning is ook gegee aan die belangrikheid van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) om handel te bevorder en die belangrikheid van die WHO se ooreengekome handelsreëls as 'n wesenlike deel van die internasionale handelstelsel.
Die ampsdraers het egter ook daarop gewys dat die WHO deur uitdagings in die gesig gestaar word en betekenisvolle en omvattende hervorming nodig het om sy funksionering te verbeter "sodat dit meer relevant en responsief kan wees in die lig van vandag se realiteite", lui die verklaring.
Ontwikkelingsbanke
Die ampsdraers het die versterking van multilaterale ontwikkelingsbanke bespreek, asook die raamwerk vir monitering en verslagdoening oor ontwikkelingsbanke se vordering met betrekking tot die G20-padkaart.
Hulle is daartoe verbind om aandag te gee lae- en middelinkomste-lande se kwesbaarheid weens skuld en om vordering te maak om die internasionale belastingstelsel te stabiliseer. Dit sluit in konstruktiewe dialoog oor die uitdagings van belasting wat spruit uit die digitalisering van die ekonomie.





















