Staatsdienswerkers is optimisties oor die bereiking van 'n loonooreenkoms met die regering nadat die regering sy aanbod van 4,7% na 5% verbeter het.
"Ons glo ons sal die onderhandelings in die komende week kan beklink," het Frikkie de Bruin, hoofsekretaris van die Koördinerende Bedingingsraad vir die Openbare Sektor, telefonies aan Bloomberg gesê.
Vakbonde wat bykans 1,3 miljoen staatsdienswerkers verteenwoordig, dring aan op 'n 6%-verhoging vir die 2025-'26-boekjaar. Toe onderhandelings in September verlede jaar begin het, het hulle nog 12% geëis.
Die regering het vroeër gesê hy wil salarisverhogings vir staatsdienswerkers vir die twee jaar ná 2025-'26 aan die verbruikersprysindeks koppel sodat hy sy finansies beter kan beheer.
De Bruin het egter gesê dit is 'n teer punt, want 'n verhoging in ooreenstemming met die inflasiekoers help slegs om mense se uitgawes te dek, maar hef hulle nie uit armoede op nie.
Die hersiene aanbod van die staat is aansienlik hoër as die heersende inflasiekoers, wat teen November tot 2,9% verlangsaam het. Dit is ook hoër as die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teiken van 4,5% waarteen hy prysverwagtinge wil anker.
Volgens Claude Naicker, woordvoerder van die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), word stelselmatige vordering in die onderhandelinge gemaak. "As die verhogings behoorlik genoeg is, sal ons dit beslis oorweeg," het hy gesê.
Die VSA verteenwoordig meer as 245 000 staatsdienswerkers.
"Lede het aangedui as ons naby 5,5% kan kom of wel 5,5% kan kry, sal hulle waarskynlik 'n ooreenkoms bereik," het Naicker gesê.
Die tesourie is gretig dat 'n loonooreenkoms voor die nasionale begroting in Februarie beklink kan word, want Enoch Godongwana, minister van finansies, sal wil wys dat die regering beter beheer het oor staatsbesteding sodat die staatskas se stygende skuldvlakke in toom gehou kan word.
Loononderhandelings sal na verwagting op 17 Januarie hervat word. - Bloomberg
















