Ekonomie

Staatsdiens gaan dalk spoke jag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Mzamo Buthelezi, minister van staatsdiens en administrasie en lid van die IVP. Foto: Gallo Images
Mzamo Buthelezi, minister van staatsdiens en administrasie en lid van die IVP. Foto: Gallo Images

In 'n poging om vas te stel of daar enige spookwerkers in die staatsdiens is, oorweeg die departement van staatsdiens en administrasie die verifikasie van alle staatsamptenare.

Mzamo Buthelezi, minister van staatsdiens en administrasie, het hierna verwys in 'n antwoord op 'n parlementêre vraag van Chumani Matiwane, EFF-LP, oor wat die plan is om werk te maak van die kwessie van skyn- of spookwerkers in die staatsdiens.

Gedesentraliseer

Aanstellings in die staatsdiens is volgens Buthelezi 'n gedesentraliseerde funksie wat deur die verskillende departemente behartig word. Dit beteken die bestuur en verifikasie van amptenare, insluitend om aandag te gee aan spookwerkers, is die verantwoordelikheid van elke departement.

Sy departement ondersoek tans, in samewerking met die nasionale tesourie en ander rolspelers, die haalbaarheid van 'n verifikasieproses van alle staatsamptenare.

"Dit sal insluit wat die koste van só 'n inisiatief sal behels. Dié proses is daarop gemik om onweerlegbaar vas te stel of daar enige spookwerkers in die stelsel is en om die nodige regstellende maatreëls te neem," lui sy antwoord.

Die laaste vaardigheidsontleding in die staatsdiens is in 2012 uitgevoer.

Kragtens regulasies moet uitvoerende hoofde in die staatsdiens - voordat enige nuwe pos geskep of 'n vakante pos gevul word - die pos evalueer ingevolge die gepaste werksevalueringstelsel, behalwe in die geval van poste waar beroepspesifieke vereistes van toepassing is.

Oudits van vaardighede

Elke departement is verantwoordelik daarvoor om periodieke oudits van vaardighede en werksevaluerings te doen.

Die staatsdiens het tans nie 'n enkele geïntegreerde stelsel om vaardigheidsoudits te doen nie. 'n Nuwe raamwerk vir vaardigheidsoudits sal die leemte vul en departemente in staat stel om 'n gestandaardiseerde benadering te volg.

Departemente word gekniehalter deur interne uitdagings ten opsigte van 'n gebrek aan kapasiteit wat hoofsaaklik toegeskryf word aan die hoë vlakke van vakante poste weens fiskale beperkinge. Dit raak departemente se vermoë om gereeld vaardigheidsoudits te doen.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM