Verskeie lande oor die wêreld heen het gereageer op die Amerikaanse handelstariewe deur pres. Donald Trump.
Agt groot handelsvennote wat verantwoordelik is vir sowat 40% van Amerika se handel, het raamwerkooreenkomste vir handel en beleggingkonsessies met Trump bereik, onder wie die Europese Unie, Japan en Suid-Korea, wie se basistariewe na 15% verminder is.
Brittanje het 'n tarief van 10% gewen, terwyl Viëtnam, Indonesië, Pakistan en die Filippyne tariefverminderings van tot 19% of 20% verseker het.
Suid-Afrika
Op eie bodem het pres. Cyril Ramaphosa Woensdagoggend 'n telefoongesprek met Trump oor bilaterale handel gevoer. Die onderhandelingspanne van die twee lande sal meer gedetailleerde gesprekke voer, het die presidensie Donderdag aangekondig. 'n Handelstarief van 30% is op Suid-Afrika van toepassing - die hoogste in Afrika suid van die Sahara.
Japan
In Japan is die motorvervaardiger Toyota 'n slag van bykans $10 miljard (sowat R177,7 miljard) te wagte weens Trump se tariewe op motors wat na Amerika ingevoer word.
Die wêreld se topmotorvervaardiger het derhalwe die vooruitsig vir sy voljaar bedryfswins met 16% gesny. Dit weerspieël die uitdagings vir globale vervaardigers wat worstel met die stygende koste van die Amerikaanse heffings op motors, onderdele, staal en aluminium. Takanori Azoema, finansiële hoof van Toyota, het Donderdag op 'n inligtingsessie gesê: "Dis eerlikwaar baie moeilik vir ons om te voorspel wat sal gebeur ten opsigte van die markomgewing."
Viëtnam
Viëtnam sal, soos Suid-Afrika, gesprekke met Amerika voortsit om die handelsooreenkoms tussen die twee lande te finaliseer, het die land se regering Donderdag gesê. Trump het verlede maand aangedui Viëtnam het 'n voorlopige handelsooreenkoms met Amerika aangegaan om Amerikaanse invoertariewe tot 20% te sny van die 46%-vlak waarmee hy in April gedreig het.
Switserland
Die Federale Raad van Switserland sal Donderdag 'n buitengewone vergadering hou nadat sy afvaardiging uit Amerika teruggekeer het as deel van 'n poging om die tariewe van 39% op Switserse produkte af te weer, sê die regering in 'n plasing op X.
Indië
Trump het 'n bykomende tarief van 25% op Indië aangekondig, wat die totale heffing op die land se goedere wat na Amerika ingevoer word, op 50% te staan bring. Dit tel onder die hoogste tariewe op enige Amerikaanse handelsvennoot. Gesprekke tussen Indië en Amerika het platgeval oor 'n meningsverskil oor die oopstel van Indië se groot plaas- en suiwelsektore en die staking van Russiese olie-aankope.
Australië
Australië het kommer uitgespreek oor Trump se jongste dreigement om tariewe op farmaseutiese invoer met tot 250% op lang termyn te verhoog, het Mark Butler, die land se minister van gestremdhede en die nasionale gestremdheidversekeringskema, Donderdag gesê.
Trump het vandeesweek gesê Amerika sal eers 'n "klein" tarief op medisyne instel wat in die buiteland vervaardig is, voordat dié tarief binne 18 maande tot 150% en uiteindelik tot 250% verhoog sal word in 'n poging om plaaslike produksie 'n hupstoot te gee.





















