Die nuwe transformasiefonds van R100 miljard gaan net nog 'n "plunderfonds" word, meen die DA.
Die DA verwerp die fonds as 'n mislukking vir breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) wat volgens die party die elite verryk en nie werkers nie.
Die party meen ook dit is 'n hindernis vir ekonomiese groei deurdat dit op ras, eerder as op belegging of werkverrigting, fokus.
Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, het in Maart 'n konsepdokument oor die transformasiefonds vir openbare kommentaar gepubliseer.
Die konsepdokument wys daarop dat die meeste swart mense steeds by die ekonomiese hoofstroom uitgesluit word. Die regering het dus die verantwoordelikheid om swart ondernemings by te staan om hul ekonomiese deelname en potensiaal om inkomste te verdien, te verhoog.
Die DA het Donderdag op 'n mediakonferensie by die parlement sy standpunt oor die transformasiefonds uitgestippel.
Die party het aan die begin van Mei die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming en sy gepaardgaande nuwe regulasies oor rasteikens in die hooggeregshof in Pretoria uitgedaag.
Toby Chance, DA-LP, het BGSEB gekap en dit as die "beslaglegging op bates tot die voordeel van 'n klein groep mense" bestempel.
Hy het redes opgenoem oor waarom die DA teen die transformasiefonds gekant is. Dit sluit in:
• Die fonds is bloot die voortsetting van BGSEB-beleid wat daarin misluk het om agtergeblewe Suid-Afrikaners in die ekonomiese hoofstroom te bring en wat 8 miljoen mense werkloos gelaat en 'n klein elite verryk het;
• Dit gee nie aandag aan hindernisse vir buitelandse belegging nie;
• Dit toon gebrekkige fokus op die stigting van nuwe sakeondernemings en groei as die hoofbron van werkskepping in die ekonomie; en
• Daar is geen belyning met bestaande ondernemings en die ontwikkeling van verskaffers of ekosisteme en programme wat deur die private sektor bedryf word nie.
Chance sê die mees doeltreffende stuk gereedskap om Suid-Afrikaners te bemagtig is 'n groeiende ekonomie wat werkgeleenthede lewer.
"Sonder groei kan daar nie transformasie wees nie. Die DA se standpunt is om aan Suid-Afrikaners die geleentheid te gee om hul volle potensiaal te bereik deur beter onderwys en vaardigheidsontwikkeling, verminderde misdaad en korrupsie, die handhawing van die oppergesag van die reg, toegang tot werk en 'n markgerigte ondernemingsekonomie wat belegging lok."
Alternatiewe
Verskeie "pragmatiese oplossings" is deur die DA voorgehou om die ekonomie te laat groei. Hieronder tel:
• 'n Onafhanklike hersiening van die wetgewende raamwerk en regulasies van BGSEB;
• Die vervanging van BGSEB met die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte van die Verenigde Nasies. Dié doelwitte het volgens die DA uitkomsgedrewe teikens insluitend die uitwissing van armoede, die verskaffing van toegang tot gehalteonderwys en -gesondheidsdienste, en verminderde ruimtelike ongelykheid;
• Uitvoer moet 'n hupstoot gegee word deur nuwe lewe in die vervaardigingsektor te blaas, asook snelgroeiende sektore wat waarde toevoeg; en
• Maatreëls om die stigting en groei van nuwe sakeondernemings te stimuleer waarin swart Suid-Afrikaners as entrepreneurs, eienaars en werknemers kan deelneem.
"Dié fokus op ondernemings, innovering en mededingendheid is in teenstelling met die klem wat in die verlede geplaas is op die oordrag van eienaarskap van bestaande ondernemings na 'n klein groep ANC-gekonnekteerde kornuite."
Plunderfonds
Willie Aucamp, DA-woordvoerder, het op dieselfde geleentheid gesê wat in die verlede gedoen is, het duidelik nie gewerk nie.
"Ons kan nie voortgaan om dieselfde ding te doen en ander uitkomste te verwag nie. Ons het in die verlede gesien hoe transformasie net 'n klein elite bevoordeel het. Gaan kyk in die landelike gebiede, gaan praat met die miljoene mense daar van wie nie een 'n enkele voordeel getrek het uit die manier waarop die ANC breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging toegepas het nie.
"Maar gaan ry in die ryk strate van Sandton en kyk hoeveel Bentleys en Ferrari's in die opritte van sogenaamde tenderpreneurs geparkeer is. Het dit die mense van Suid-Afrika bevoordeel of het dit die elite bevoordeel?"
'n Omgewing moet geskep word waar die hele ekonomie kan groei, want wanneer die ekonomie groei, kan werk geskep word, het Aucamp benadruk.
"Om nog 'n transformasiefonds te hê wat nog 'n plunderfonds gaan wees... ons het gesien wat in die verlede gebeur het. Ons het gesien wat met kaderontplooiing gebeur het en hoe dit die hele projek om Suid-Afrikaners op te hef, ontspoor het."
Slaan ander roete in
Hy het op 'n vraag oor die narratief dat die DA anti-swart is, gesê dit is "totaal, totaal verkeerd".
"Wat in die verlede gebeur het, het nie gewerk nie. Waarom voortgaan daarmee? Laat ons 'n ander roete inslaan. Laat ons die roete van ekonomiese bemagtiging vat. Laat ons 'n omgewing skep waarin die private sektor kan floreer, waar kleinsakeondernemings minder burokratiese rompslomp kan hê, suksesvol kan wees en bystand van die regering kan ontvang om te floreer en sodat hulle mense in diens kan neem.
"Nie 'n fonds wat soos in die verlede weer geplunder sal word om 'n paar van die elites te bevoordeel nie," het Aucamp gesê.
- philda.essop@24.com





















