Die volgende evaluering van Suid-Afrika deur die internasionale waghond oor geldwassery en terreurfinansiering vind reeds volgende jaar plaas.
Suid-Afrika stoei nog om van die gryslys te kom nadat hy weens die ongunstige evaluering in 2019 daarop beland het.
Die Finansiële Aksietaakmag (FATF), waarvan Suid-Afrika 'n lidland is, doen elke sewe of agt jaar 'n evaluering van 'n land se pogings om geldwassery en terreurfinansiering te bekamp.
Ismail Momoniat, 'n adviseur van die tesourie en hoof van Suid-Afrika se afvaardiging na die FATF, het Dinsdag op die Gedragsowerheid oor die Finansiële Sektor (FSCA) se jaarlikse bedryfskonferensie gesê die volgende evaluering vind in 2026 plaas.
Moenie weer op gryslys beland
"Ons beter gereed wees sodat ons nie weer op die gryslys beland nie."
Hy glo egter danksy Suid-Afrika se reaksie op sy eerste keer op die gryslys is die land nou in 'n beter plek.
Volgens Charl Geel, hoof van die departement wat oor die nakoming van die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) toesig hou, het die FSCA hom reeds begin voorberei op die volgende ronde van evaluering.

"Ons wil beslis nie ‘teruggesit' word op die gryslys nie."
Hy is optimisties dat dit goed sal gaan danksy die werk wat reeds gedoen is.
"Maar ons kan dit nie alleen doen nie, die private sektor se hulp is nodig.
" 'n Bedeling om finansiële misdaad te bekamp, kan slegs werk deur gekoördineerde optrede wat tussen 'n groot verskeidenheid belangegroepe in die openbare en private sektor plaasvind."
Samewerking met ander reguleerders is ook nodig.
Dié dinge vereis aandag
Volgens Momoniat hou van die dinge wat nog voor die 2026-evaluering aandag vereis verband met regulasies vir kontantkarweiers en organisasies sonder winsmotief.
Hy verwys na mense wat honderdduisende dollars die land inbring om "buffels" te koop en dit nie verklaar nie, 'n ooglopende verwysing na die Phala Phala-skandaal op pres. Cyril Ramaphosa se wildsplaas en die kontant wat 'n skatryk sakeman van oorsee af ingebring het om glo buffels op die plaas te koop. Van dié geld wat op Ramaphosa se plaas gehou is, is toe gesteel.
LEES OOK | MKP-debat oor Phala-Phala boemerang toe EFF Nkandla-geraamtes uit die kas haal
Volgens Momoniat leer die finansiële reguleerders wel lesse uit sodanige voorvalle.
Daar kan moontlik weer 'n omnibus-wetsontwerp kom indien die FATF intussen van die standaarde gewysig het waaraan voldoen moet word.
Voordat Suid-Afrika op die gryslys beland het, is so 'n wet deurgevoer om 'n klomp gate in wetgewing toe te stop wat die FATF geïdentifiseer het.
Hy sê wat ook aandag sal moet kry, is of niebankdienste, soos aanlyn betaalprodukte en "Uber, Google, Apple" na behore gereguleer word om geldwassery en terreurfinansiering te bekamp.
Ook die Wet op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasies en Verstrekking van Kommunikasie-verwante Inligting (Rica), wat vereis dat selfooneienaars hul simkaarte registreer, sal meer aandag moet kry. "Tans kan mens nie werklik op die inligting staatmaak om te bepaal wie die eienaar van 'n selfoon is nie."
Kripto-bates wat oor grense heen en plaaslik gebruik word, moet ook meer aandag kry.
Laaste twee take
Die vorige evaluering het in 2019 plaasgevind, maar weens die pandemie is die resultate eers in 2021 gepubliseer.
"Ons het verskriklik swak gevaar," sê Momoniat.
Suid-Afrika het onlangs terugvoering gekry dat hy nog net twee van die 22 take oor het in die aksieplan waartoe hy moes instem toe hy in Februarie 2023 op die gryslys geplaas is.
Dié twee take is egter die moeilikste, insluitend dat 'n volgehoue toename in ondersoeke en vervolgings van meer ernstige en komplekse geldwassery getoon moet word. Dit sluit in dat georganiseerde netwerke van geldwassers ondersoek en vervolg moet word.
"So dit is nie net dié wat die misdaad pleeg nie, maar dié wat hulle daarmee bystaan, wat baie moeilik is om te bewys en te vind."
Hy sê dit moet ook sake teen mense met politieke bande insluit om te toon dat die land bereid is om sulke ondersoeke te doen, ongeag hoe hooggeplaas iemand is.
Ten opsigte van terreurfinansiering moet 'n volgehoue toename getoon word dat sulke gevalle doeltreffend geïdentifiseer, ondersoek en vervolg word.
Ten opsigte van dié laaste twee take moes die Nasionale Vervolgingsgesag en die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke werklike vordering en gevallestudies toon.
Terugvoer in April, dan inspeksies
Volgens Momoniat kon hulle toon dat daar 'n verbetering plaasgevind het, maar die FATF wou 'n volgehoue toename sien.
Hy sê 'n konsepverslag is reeds by die FATF ingedien.
Die afvaardiging sal in die tweede week van April na Tanzanië reis om daaroor verslag te doen.
Indien die stappe wat Suid-Afrika gedoen het teen Junie as voldoende beskou word, gaan inspeksies daarna by finansiële instellings in Suid-Afrika plaasvind om te bevestig of die reguleerders wel gedoen het wat hulle in die verslag aanvoer.
Geel sê wanneer die inspekteurs van die FATF die land besoek, moontlik in September, moet die private sektor reg wees vir inspeksies.
Momoniat is baie optimisties dat die land die toets gaan slaag en die gryslys in Oktober sal verlaat.
Maak SA beter
Momoniat glo die gryslysstatus was goed vir Suid-Afrika omdat dit die land gedwing het om meer doeltreffend te word.
"Dis nie net vir die FATF gedoen nie, maar in belang van ons land omdat ons instellings erg verswak is ná staatskaping en hul vermoë moes herbou."
Geel sê wetstoepassing sal volgehou en verhoog moet word.
"Ons kan nie nou ontspan nie. Dit gaan nie oor die gryslysstatus of dat daar inspeksies van die FATF kom en nog 'n evaluering gaan plaasvind nie. Dit is nou die norm. Ons wil Suid-Afrika 'n beter plek maak."
Volgens hom was daar sewe take wat van toepassing was op die FSCA, waarvan vyf genoegsaam aandag gekry het van 2021 tot 2023, voordat die land op die gryslys geplaas is.
Dit het ingesluit dat 'n toegewyde departement geskep word om dié aangeleenthede te hanteer en dat die FSCA se vermoëns opgeknap word.
Baie nuwe personeel is aangestel en dit het gelei tot meer en beter inspeksies by ondernemings om vas te stel of hulle aan die vereistes voldoen wat gestel is om geldwassery en terreurfinansiering te bekamp.
Alles wat die FSCA gedoen het
Een van die twee take wat vir die FSCA oorgebly het, was om te verseker dat die vlak van toesighouding oor finansiëlediensteverskaffers (FSP's) in pas is met die land se risiko vir geldwassery en terreurfinansiering.
Dit was veral vir bestuurders van diskresionêre geld en effektetrustfondsbestuurders.
Teen 2024 het die FATF dié taak as grootliks afgehandel beskou.
Die ander taak was om seker te maak dat die FSCA alle maatstawwe tot sy beskikking gebruik om oortredings te voorkom, insluitende boetes en strawwe.
Volgens hom was daar 'n groot styging in die waarde van die boetes wat opgelê is.
"Dis wat die FATF van ons wou gehad het. Gaan ons nou stop? Nee, dit is nou die norm. So, julle kan verwag dat ons streng gaan optree indien julle nie voldoen aan die vereistes nie."
Daar was ook 'n baie groot styging in strawwe wat nie 'n boete behels nie.
"Ons was die enigste toesighouer wat 'n lisensie teruggetrek het omdat daar nie aan die vereistes oor die bekamping van geldwassery en terreurfinansiering voldoen is nie."
Die toename in die aantal strawwe is van die syfers waarna die FATF gekyk het en gehelp het om ook 'n regmerkie vir dié item te kry.
- nellie.brand@24.com





















