Energie

7 tendense in energiesektor

Hernubare energie sal volgens die Internasionale Energieagentskap aanhou groei, met sonkrag aan die voorpunt.
Hernubare energie sal volgens die Internasionale Energieagentskap aanhou groei, met sonkrag aan die voorpunt. (Foto: Internasionale Energieagentskap)

Die energiesektor moet ’n storm van onsekerhede trotseer, wat die lewe vir beleidmakers, sakeleiers en beleggers moeilik maak.

Maar dr. Fatih Birol, uitvoerende direkteur van die Internasionale Energieagentskap (IEA), het ’n lys van sewe sekerhede opgestel wat as riglyne kan dien vir die wêreld se energietoekoms:

  • Die wêreld het die era van elektrisiteit betree. Olie en gas sal nog jare lank gebruik word, maar die gebruik van elektrisiteit groei teen dubbel die spoed as waarteen die vraag na alle energiebronne in totaal groei.
  • Hernubare energie sal aanhou groei. Ondanks groot struikelblokke, voldoen groenkrag reeds in baie lande aan ’n groot deel van die groeiende vraag na elektrisiteit. Dis dikwels omdat hernubare energie die mees mededingende opsie uit ’n reeks alternatiewe is. Sonkrag is vooraan, met lande soos Indië waar die energievraag onder die sterkste is, wat baie goeie sonkraghulpbronne het.
  • Kernkrag maak ’n terugkeer. Ná ’n reeks terugslae in die 2010’s is kernkrag weer aan die herstel, soos wat die IEA sowat vier jaar gelede reeds voorspel het. Kernkrag het verlede jaar meer elektrisiteit opgewek as ooit tevore. Meer as 70 GW se nuwe kernkragkapasiteit is tans in aanbou – een van die hoogste vlakke in die afgelope 30 jaar.
  • Die risiko van energiesekerheid vermenigvuldig, veral wat kritieke minerale betref. Daar was nog altyd die tradisionele gevare wat die veiligheid van olie- en gasvoorraad bedreig, maar daar is nou ook kwesbaarhede in ander gebiede, wat die veiligheid van kragverskaffing en kritieke minerale insluit. Dis beklemtoon deur die onlangs grootskaalse kragonderbrekings in Chili en Spanje, en die feit dat China as enkele land die oorheersende verwerker van 19 uit 20 energieverwante strategiese minerale is. China se gemiddelde markaandeel in dié minerale is sowat 70%. Meer as die helfte van dié strategiese minerale is onderworpe aan die een of ander vorm van uitvoerbeheer.
  • Regerings neem die leisels stywer vas. Namate energie ’n saak van ekonomiese en nasionale veiligheid word, begin regerings toenemend ingryp in ’n poging om die resultate te bepaal eerder as om dit aan die mark oor te laat.
  • Die energiemark word ’n kopersmark wat sleutelbrandstowwe en -tegnologieë betref. Oliepryse is reeds onder druk weens relatief oorvloedige aanbod en dieselfde sal eersdaags in die markte vir aardgas gebeur, aangesien ’n golf van nuwe aardgas-uitvoerprojekte met bedrywighede gaan begin. Ruim vervaardigingskapasiteit bestaan ook vir batterye, sonpanele en ander tegnologie.
  • Nuwe rolspelers dryf toenemend internasionale energietendense aan. Die swaartekrag in die wêreld se energiemarkte is aan die skuif namate ’n groep opkomende ekonomieë gelei deur Indië en ander in Suidoos-Asië, asook die Midde-Ooste, Latyns-Amerika en Afrika die dinamika in energiemarkte toenemend vorm.