Energie

DA en EFF stem saam oor onbekostigbare kragtariewe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
DA-ondersteuners betoog gister buite Nersa se kantoor.
DA-ondersteuners betoog gister buite Nersa se kantoor.

ANC-parlementslede was Donderdag op hul eie met 'n verskuilde verdediging van Eskom se versoeke vir skerp tariefverhogings.

Lede van die DA en EFF het op hul beurt in 'n debat in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) vir 'n slag saamgestem in hul protes teen die jongste aansoek vir 'n 36%-verhoging, benewens 'n bykomende terugwerkende verhoging van 4%.

Sylvia Sithole, ANC-lid in die NRP, het aangevoer Eskom wou aanvanklik 'n terugwerkende inkomste-inspuiting van R23,9 miljard vir die 2021-'22-boekjaar hê, maar die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het "net" R8,1 miljard aan Eskom toegestaan.

Dit moet ingevolge 'n hofbeslissing toegepas word en gaan 'n 4%-verhoging vir die 2025-'26-boekjaar behels.

Maar Nicolaas Pienaar, DA-lid van die NRP, het daarop gewys dit beteken die 4%-verhoging kom bo-op die 36%-tariefaansoek waarvoor Eskom vir die volgende boekjaar vra. Dit beteken die totale tariefverhoging vir volgende jaar kan wel sowat 40% wees as Nersa Eskom sy sin gee met die jongste tariefaansoek.

Meisie Kennedy, EFF-lid van die NRP, het met die DA saamgestem in haar protes teen die onbekostigbare tariefverhogings. Maar die EFF is wel ook gekant teen die ontbondeling en "privatisering" van Eskom, en wil 'n staatsmynfirma stig wat toesig kan hou oor Eskom se steenkoolkontrakte.

Dennis Ryder, huisvoorsitter van komitees in die NRP en 'n DA-LP, het in die debat gesê die woord "beurtkrag" het in 2008 in die land se woordeskat gekom. Dit was al in oudpres. Thabo Mbeki se era dat daar besluit is om nie nuwe kragstasies te bou nie. Dit was dus nie net onder oudpres. Jacob Zuma wat die kragkrisis ontstaan het nie.

Van 2004 tot 2021 het Eskom se personeelgetalle met 33% geklim, met gemiddelde salarisse wat tot R750 000 per jaar in 2022 gestyg het, het Ryder gesê.

Hy het daarop gewys dat Eskom in 2001 'n toekenning gewen het as internasionale kragmaatskappy van die jaar.

"Maar Eskom maak homself nou as die slagoffer uit."

Ryder het gewys op korrupte tenders, soos die koop van enkellaag-toiletpapier teen R26 per rol wat R4,99 by die naaste Spar-winkel kos. "Eskom is 'n misdaadtoneel, nie 'n staatsonderneming nie."

Ryder het gewys op die Nersa-wet wat bepaal dat Nersa 'n onafhanklike entiteit moet wees, met lede van die reguleerder wat op 'n regverdigbare en deursigtige manier moet optree, asook in die openbare belang as hulle oor tariewe besluit.

"Is 'n 40%-verhoging in kragpryse in die openbare belang? Absoluut nie."

Sithole het gewys op die regering se elektrifiseringsveldtog om miljoene mense sedert 1994 aan die nasionale kragnetwerk te koppel. Dit was mense wat nie voorheen krag gehad het nie, en die reg op elektrisiteit maak ander grondwetlike regte moontlik.

Volgens haar was die tariewe wat Nersa tot nou toe aan Eskom toegeken het, te laag om Eskom se koste te dek, en dis hoekom kragtariewe so skerp moet styg.

Sithole het die hofbeslissings opgehaal ingevolge waarvan Nersa verplig is om terugwerkende inkomste-versoeke aan Eskom toe te staan.

Die feit dat Nersa aan Eskom net R8,1 miljard se terugwerkende inkomste toegelaat het toe hy vir R23,9 miljard se ekstra inkomste vir die 2021-'22-boekjaar gevra het, is volgens Sithole 'n bewys dat Nersa daartoe verbind bly om 'n balans te vind tussen Eskom se volhoubaarheid en om kwesbare en arm huishoudings te beskerm.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM