Die regering se besluit om met 'n tender vir 2 500 MW se nuwe kernkragkapasiteit te begin, is volgens die DA prosedureel onbillik, gebrekkig, onwettig en ongeldig.
Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, sê die party het Vrydag hofstukke ingedien om te vra dat die art. 34-bepaling wat op 26 Januarie in die Staatskoerant gepubliseer is, tersyde gestel moet word.
Die hofstukke word teen dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, en die nasionale energiereguleerder (Nersa) ingedien.
Die bepaling is op 10 Maart 2020 al deur Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, onderteken. Volgens Mileham is die bepaling ongeldig omdat dit deur die verkeerde minister onderteken is.
Teen die tyd toe die bepaling uiteindelik in Januarie vanjaar gepubliseer is, of alternatiewelik toe Nersa in Augustus verlede jaar ingestem het tot die bepaling, het die mag om die bepaling te doen reeds oorgegaan na Ramokgopa.
Mileham wys daarop die bepaling sluit nie 'n belangrike vereiste van Nersa in dat die verkryging van bykomende kernkrag op die grondslag van 'n ingenieurs-, verkryging- en konstruksiekontrak moet wees nie.
Meer as twee jaar het verloop tussen die tyd dat Mantashe besluit het dat nuwe kernkrag gebou moet word, en die instemming van Nersa.
Mileham voer ook aan daar was geen openbare deelname oor die bepaling nie. Dit was juis een van die aspekte waarop gewys is in die hofsaak van 2017 toe die omgewingsgroep Earthlife Africa suksesvol was om die vorige kernbouprogram van 9 600 MW onder oudpres. Jacob Zuma te keer. In daardie uitspraak is uitgewys dat openbare insette oor art. 34-bepalings 'n kritieke deel van die proses is, en daar word uitdruklik in art. 10 van die Wet oor die Nasionale Energiereguleerder daarvoor voorsiening gemaak.

Die hof het destyds ook uitgewys dat 'n vertraging van twee jaar in die publikasie van 'n bepaling vereis dat Nersa opnuut sy instemming moet gee, wat 'n nuwe openbaredeelnameproses sal vereis.
Die DA glo dus die proses wat Ramokgopa en Nersa met die jongste bepaling gevolg het, is gebrekkig en dus onwettig en ongeldig.
'n Nuwe kernkragbouprogram sal in alle waarskynlikheid die grootste infrastruktuurprojek wees wat Suid-Afrika nog ooit aangepak het wat geldkoste betref. Dit is volgens Mileham daarom noodsaaklik dat dit mededingend en deursigtig moet wees, en onbesmet van enige onbehoorlikheid.
Gegewe die huidige situasie met beurtkrag, is dit volgens Mileham so duidelik soos daglig dat 'n nuwe bouprogram vir kernkrag slegs 'n langtermynoplossing is, en nie 'n voldoende reaksie op die onmiddellike krisis nie. Veel meer moet eers op kort tot mediumtermyn gedoen word om die land se transmissienetwerk te versterk en uit te brei en om bykomende kragopwekkingsvermoë so gou as moontlik aan die netwerk te koppel.
Hy het voorheen aangevoer die bepaling ondermyn die gesag van die nasionale tesourie oor fiskale volhoubaarheid, en oortree die voorwaardes van die tesourie se skuldverligting aan Eskom. Die regering het nog nie behoorlik bereken presies hoeveel die nuwe kernkragprogram hom gaan kos nie.
Sedert hy die hofsaak van 2017 verloor het, het die regering telkens herhaal dat nuwe kernkrag slegs gebou sal word teen 'n tempo en skaal wat die land kan bekostig.
Bedryfsliggame soos die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Jong Beroepslui in die Kernkragbedryf (SAYNPS) het egter die bepaling verwelkom. Die vereniging beskou dit as 'n kataliserende plan vir ekonomiese groei en om kragverskaffing op lang termyn te stabiliseer.























