"Absoluut vreesaanjaend."
Dit is hoe André de Ruyter, gewese Eskom-baas, Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, beskryf het in 'n klein aantekening aan homself ten tyde van 'n vergadering.

De Ruyter het gisteraand in 'n onderhoud met Carte Blanche gesê dit was omdat Mantashe se fanatiese aanhang van steenkoolkrag "heeltemal bots met die trajek van energie wêreldwyd".
Dit was net een van tallose struikelblokke in sy pad in sy drie jaar by Eskom.
Hy het gesê hy wou die "ridder op die wit perd" wees wat al die probleme opgelos het.
"Duidelik is dit onmoontlik. Dit was te moeilik."
Nogtans sal hy homself so tussen "6 en 7 uit 10" gee vir sy tyd by Eskom.
"Dit was nie 'n ongekwalifiseerde sukses nie, maar ek dink dit sal te erg wees om dit 'n mislukking te noem," het hy gisteraand gesê.
"Ek het nie beurtkrag opgelos nie. Ek het nie al die korrupsie blootgelê nie. Ek het nie genoeg gedoen nie."
Die voorafopgeneemde onderhoud is uitgesaai op dieselfde dag waarop sy boek, Truth to Power, die lig gesien het. De Ruyter wou nie sê waar hy en sy gesin hulle tans bevind nie.
In die boek beskryf hy die Gupta-broers as die "haai" wat Eskom begin vreet het, maar amper elkeen daar is nou 'n smullende "piranha".

Uitsprake soos dié in die boek oortuig kenners daarvan dat daar "niks oor is" by die kragvoorsiener om te red nie.
Die boek, wat deur Penguin Random House uitgegee word, is in die geheim geskryf en nie voor publikasie bemark nie. Die uitgewer het op versoek van Beeld hoofstuk 10 van die boek gedeel.
"Toe ek die hoofuitgangshek van Megawatt Park vanuit my venster op die derde verdieping dophou, was ek verstom om 'n aantal Range Rovers, BMW's, Mercs en selfs 'n verdwaalde Porsche om 15:30 smiddags na die uitgang te sien ry," skryf De Ruyter.
Hy sit in die res van die hoofstuk uiteen hoe die Guptas se kaping van Eskom in die welbekende "staatskapingsjare" net die begin was.
Benedicta van Minnen, die DA se leier in die gesaghebbende parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), het min hoop.
Gevra of die aanvanklike indrukke van wat De Ruyter in sy boek onthul haar laat vasklou aan die idee dat Eskom "gered" kan word, het sy nie doekies omgedraai nie.
"Om heeltemal eerlik te wees, ek betwyfel dit ten sterkste. Die verrotting het uiteindelik net te ver gegaan," sê sy.
Van Minnen se indruk is veral gesaghebbend weens haar belangrike rol in Skoor wat tans De Ruyter se bewerings ondersoek.
Ná sy aanvanklike skokkende onthullings in Februarie op eNCA, het Skoor vinnig ingegryp en hom geroep om voor hom te verskyn.
'n Senuagtige De Ruyter wou nie name noem van onder meer die twee beweerde kabinetslede wat betrokke is by Eskom se korrupsie nie.
"Ons wil dringend hê hy moet terugkom na Skoor," sê Van Minnen.
"Die sittings met ander partye wat op die een of ander manier betrokke was in die sage wat deur De Ruyter se bewerings blootgelê is, het nie veel opgelewer nie, behalwe 'n alomvattende apatie om enigsins enigiets te ondersoek.
"Mpho Makwana, nuwe voorsitter van Eskom, se uitlating teenoor ons dat senior politici wat by Eskom-korrupsie betrokke kan wees, ‘nie 'n Eskom-probleem is nie, maar 'n SAPD-probleem', is belaglik en skokkend en 'n aanduiding van hoe reddeloos die situasie geword het."
Ghaleb Cachalia, DA-LP en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare rekeninge, wat naas Skoor deur die jare die meeste met Eskom vergader het, is ook moedeloos.
"Daar is ooglopende strukturele probleme waarop De Ruyter sinspeel, wat enige ommeswaai van Eskom sal voorkom. Die beskerming van die regering laat toe dat dit voortgaan," sê Cachalia.
Help dit sonder name?
Stefanie Fick, regshoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), sê De Ruyter het baie gehelp, selfs sonder om sy lewe op die spel te plaas deur die politici se name te noem wat na bewering by die korrupsie betrokke is.
"De Ruyter wat aanhou en aanhou en aanhou, hou die kwessie op die voorblaaie, wat Outa en ander burgerlike organisasies baie help en ander fluitjieblasers bemagtig," sê Fick.
Sy reken dit is nou so groot in die openbare domein dat die owerhede dalk ook hul sokkies sal optrek.
"Die Valke en Spesiale Ondersoekeenheid sal dalk nou gedwing word om op te tree."
Benedicta van Minnen van die DA is net so teleurgesteld in dié twee entiteite, wat ná De Ruyter oor die sage voor Skoor verskyn het.
Dr. Dirk Hermann van Solidariteit sê ongeag wat volgende gebeur, De Ruyter het iets ongeloofliks vermag.
"Hy maak die debat oop, hy steek die sweer oop. Solidariteit sal met ywer daaraan werk om die swere by Eskom verder oop te maak en dan skoon te maak."
Held, fluitjieblaser
Solidariteit, wat 6000 lede by Eskom het, is oortuig daarvan dat De Ruyter 'n held is.
"Die boek bevestig die netwerk van korrupsie wat bestaan," sê dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, onomwonde aan Beeld.
"In ons interaksie met die regering en politici oor Eskom beleef ons presies wat De Ruyter ervaar het."
Hermann sê daar is geen twyfel dat De Ruyter die waarheid praat nie. Hul lede is al deur Eskom se eie veiligheidsdienste geïntimideer nadat hulle vertroulik die fluitjie probeer blaas het. De Ruyter het rede om versigtig te wees.
"Jy kan nie dinge van 'n man wat aan die stuur van Eskom was met 'n knippie sout vat nie. Jy maak nie hierdie dinge op en skryf 'n boek daaroor nie," sê Ghaleb Cachalia, DA-LP.




















