Energie

Diesel word tot 57c goedkoper

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Alle brandstofpryskategorieë word Woensdag goedkoper.

Maar dis soos met George Orwell se Animal Farm – alle brandstofprodukte is gelyk, maar sommige is meer gelyk as ander.

Petrol word van Woensdag af net 4c per liter goedkoper, maar bestuurders van dieselvoertuie kry ’n ruimer 56c-verlaging per liter vir diesel met ’n 0,05%-swaelinhoud. Die skoner diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% word 57c per liter goedkoper.

Let egter op dat die dieselpryse groothandelpryse is, met vulstasies wat van straathoek tot straathoek hul finale pomppryse na goeddunke aanpas.

Paraffien word 37c per liter goedkoper in die groothandel en die maksimum toegelate kleinhandelprys van paraffien word 49c per liter goedkoper.

Vloeibare petroleumgas word ook goedkoper en gaan voortaan R1,32/kg goedkoper wees in Gauteng en R1,51/kg goedkoper in die Wes-Kaap. Dié pryse wissel na gelang van vervoerkoste en omdat die Wes-Kaapse voorraad grootliks ingevoer word via die Saldanha-hawe.

Die laer pryse is danksy albei oorheersende faktore in Suid-Afrikaanse brandstofpryse se berekening wat die afgelope maand in verbruikers se guns gedraai het. Internasionale brandstofpryse was laer in pas met die laer oliepryse en die rand het effens versterk teenoor die dollar.

Dis wel grootliks die laer internasionale pryse wat deurgesyfer het na die verlaging. Die sterker rand het net sowat 2c per liter tot die laer pryse bygedra in al die produkkategorieë.

Die Brent-ruolieprys het in die oorsigtyd van $69 per vat tot $67 per vat gedaal danksy groter produksie deur die groot olieproduserende lande, asook swakker ekonomiese vooruitsigte en onsekerheid oor handelstariewe wat die verwagte vraag gedemp het.

Nuwe pryse per liter:

• 95-oktaan-petrol in Gauteng: R21,55;

• 93-oktaan-petrol in Gauteng: R21,47;

• 95-oktaan-petrol aan die kus: R20,72;

• Groothandeldiesel met 0,05% swael in Gauteng: R19,44;

• Groothandeldiesel met 0,05% swael aan die kus: R18,61;

• Gasprys per kilogram in binneland: R34,76;

• Gasprys per kilogram aan die kus: R31,60;

• Gasprys per kilogram in die Wes-Kaap: R33,79;

• Paraffienprys aan die kus: R12,09; en

• Paraffienprys in Gauteng: R13,10.

– francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM