Energie

Dieselprys styg dalk met sowat 60c per liter

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Goedkoper diesel help die hele ekonomie, van produksie tot verkoeling. Foto: Unsplash
Goedkoper diesel help die hele ekonomie, van produksie tot verkoeling. Foto: Unsplash

Ná die eerste week van die Israel-Iran-konflik moet Suid-Afrikaanse motoriste hulle staal vir 'n skerp styging in brandstofpryse.

Die onderverhaling op brandstofpryse - dus die styging indien pryse vandag vasgestel moes word - wissel van 35c tot 58c per liter. Die onderverhaling op diesel met 0,005%-swaelinhoud is die hoogste op 58c per liter, terwyl die onderverhaling op 95-oktaan-petrol nog betreklik matig is op 38c per liter.

Die laaste week van die oorsigmaand vir Julie se brandstofpryse het begin. Volgende week dié tyd sal die finale onderverhalings bekend wees. 'n Oorverhaling (daling) sal in dié laat stadium 'n baie groot daling in oliepryse én 'n versterking van die rand vereis.

Indien brandstofpryse styg, wat die waarskynlikste scenario is, sal dit die eerste keer in vyf maande wees. As die rand verswak en/of die olieprys nóg styg, sal die onderverhaling selfs groter wees.

Brandstofpryse verander op Woensdag 2 Julie.

Sedert Israel se eerste aanval op Iran verlede Vrydagoggend vroeg het die prys van Brent-ruolie, waarvan plaaslike petrol gemaak word, met 10% verswak tot $77,21 per vat.

Omdat die rand die grootste deel van die oorsigmaand sterk gestaan het, keer dit dat brandstofpryse met nóg sowat 15c moet styg. Maar dié hulp kwyn ook daagliks weens die konflik, met die rand wat nou al twee dae swakker as R18 teen die dollar gesluit het - Donderdag op R18,07, wat die swakste is sedert 19 Mei.

Benewens die rand en internasionale brandstofpryse verander die oktaandifferensiaal tussen 95- en 93-oktaan-petrol kwartaalliks; dit word dus in Julie aangepas. Dit kan 'n impak van 'n paar sent per liter op petrolpryse hê.

Duurder brandstof het 'n impak op elke aspek van die ekonomie, van boere se produksiekoste tot die koste om kos op die winkelrakke te kry. Dit kan pryse opdruk en inflasie weer laat toeneem van die huidige lae 2,8% af.

Omdat almal meer aan brandstof moet bestee en dus minder geld vir ander items beskikbaar het, kan dit ekonomiese groei verder demp.

Na gelang van hoe lank die konflik voortduur, kan dit ook die Reserwebank op 31 Julie huiwerig maak om die rentekoers weer te verlaag.

Só daal brandstofpryse tot dusver vanjaar

Suid-Afrikaners betaal nou tussen 11,6% en 12,5% minder vir brandstof as 'n jaar gelede.

Die prys van 95-oktaan-petrol is R21,35 per liter in Gauteng en R20,52 aan die kus. Die groothandelprys van diesel met 0,05%-swael is R20,97 per liter in Gauteng en R20,18 aan die kus.

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM