‘Net’ 12,7%-styging in kragtariewe vir Eskom sal ekonomie steeds raak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hoër kragtariewe mag in werking tree ondanks ’n hofuitspraak.  Foto: William Horne
Hoër kragtariewe mag in werking tree ondanks ’n hofuitspraak. Foto: William Horne

Eskom se regstreekse kliënte sal van 1 April 12,7% meer vir krag moet opdok.

Dit is veel hoër as die inflasiekoers, en selfs die Nasionale Energiereguleerder (Nersa), wat Donderdagmiddag sy besluit vir die komende tariefjaar bekend gemaak het, het toegegee dit sal die ekonomie negatief raak.

Die verhogings wat Nersa vir die daaropvolgende twee tariefjare toegestaan het, is 5,36% en 6,19%.

Eskom het vir onderskeidelik 36%, 12% en 9% gevra, maar Nersa het heelparty items op sy tariefaansoek afwaarts aangepas.

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor elektrisiteit, het gesê die DA sal bly veg teen die verhogings en verwerp ook die 12,7%-verhoging.

Munisipale verbruikers hoor eers later

Munisipale kragverbruikers sal eers later uitvind hoeveel meer hulle sal moet betaal, want munisipaliteite se boekjaar begin eers op 1 Julie, wanneer hul tariewe in werking tree. Dié moet ook eers deur Nersa goedgekeur word.

Munisipaliteite plaas meestal ekstra winsmarges by die elektrisiteit wat hulle van Eskom aankoop en herverkoop om ander gate in hul begroting te kan toestop.

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, het vroeër beloof die tariefverhogings sal nie 36% bedra, soos wat Eskom gevra het nie.

Onbekostigbaarheid

Alle deelnemers aan Nersa se openbare sitting oor Eskom se tariefaansoek was sterk gekant teen die omvang daarvan.

Armes het gekla hulle sou moes kies tussen krag en kos, en sakeondernemings het gesê hulle sou moes sluit of poste besnoei.

Die Menseregtekommissie het in Desember selfs gewaarsku dat sulke skerp prysstygings openbare onrus kan meebring.

Thembani Bukula, voorsitter van Nersa, sê Eskom het in Augustus verlede jaar afsonderlike aansoeke ingedien vir die drie afdelings waarin hy ontbondel word, en vir drie agtereenvolgende tariefjare.

Vir die eerste tariefjaar, van 1 April af, wou Eskom 'n inkomste van R446 miljard hê, wat 'n 36%-verhoging sou beteken het. Maar Nersa het hom 'n inkomste van net R384 miljard toegelaat vir die jaar.

Vir die tweede en derde jaar het Eskom R495 miljard en R536 miljard gevra. Die totale verhoging vir die drie jaar sou 57% gewees het, het Nomfundo Maseti, voorsitter van Nersa se energiesubkomitee, gesê.

Dit sou vernietigend vir die ekonomie gewees het, het sy gesê.

Die items waarop Nersa die toegelate inkomste van Eskom veral verlaag het, sluit in bedryfsuitgawes, depresiasie, winsmarges en primêre energiekoste.

Nersa het Eskom se verwagte verkoopvolumes oor die komende boekjare skerp verhoog. Dit is nie doeltreffend as Eskom soveel vra vir kapitaalbesteding en dan nie verkope verhoog nie, het Maseti gesê.

Nersa het doeltreffendheidsteikens vir Eskom gestel om oor die drie jaar sy energiebeskikbaarheidsfaktor tot 75% te verhoog teenoor die huidige minder as 60%, en om onbeplande kragonderbrekings tot 13% van sy totale kapasiteit te beperk.

Nersa sal Eskom se besteding van sy inkomste noukeurig monitor, het Maseti gesê.

Ekonomiese impakstudie

Die verhoging wat Eskom gevra het, sou produktiwiteit met 3,34 persentasiepunte geknou het, het Nersa se ekonomiese impakstudie gewys. Die 12,7% wat toegestaan is, sal die produktiwiteit van die primêre nywerheidsektor met net 1,24 persentasiepunte verlaag, volgens Maseti.

Sy het toegegee dat selfs die tarief wat Nersa goedgekeur het, steeds die ekonomie negatief sal raak.

Nersa het die insette van die publiek in ag geneem in sy besluit, het Maseti gesê. Kenners het byvoorbeeld uitgelig dat Eskom se skerp tariefstygings binnelandse en internasionale mededinging raak.

Renew Consulting het gesê die feit dat baie kragverbruikers nie 'n alternatief vir Eskom het nie, beteken nie hulle is bereid om Eskom se hoër pryse te betaal nie. Die duurder krag beteken groot sakeondernemings skuif eerder na ander lande met laer kragkoste.

Tariefstruktuur

Volgens Bukula is dit nog te gou om te sê of Nersa die aansoek van Eskom oor 'n nuwe tariefstruktuur betyds gaan goedkeur sodat dit in April toegepas kan word. Hy verwag wel dat dié aansoek teen einde Februarie verwerk sal word. Hy kon ook nog nie sê hoe munisipale kragtariewe deur Nersa se besluit geraak sal word nie.

- francois.williams@24.com

• Dié berig is ná publikasie bygewerk met meer inligting uit Nersa se nuuskonferensie.

SPELETJIES VANDAG

CTA