Energie

Groen lig vir nuwe mede-eienaar van Natref

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Natref-olieraffinadery in Sasolburg. ’n Britse groep gaan die Franse oliereus TotalEnergies se belang in Natref by hom oorkoop. Foto: Sasol
Die Natref-olieraffinadery in Sasolburg. ’n Britse groep gaan die Franse oliereus TotalEnergies se belang in Natref by hom oorkoop. Foto: Sasol

Nog 'n olieraffinadery, een van nog net twee ruolieverwerkers in Suid-Afrika, gaan 'n nuwe eienaar kry.

Die Mededingingskommissie het 'n transaksie goedgekeur waardeur Prax Suid-Afrika die 36,36%-belang wat die Franse oliereus TotalEnergies in die Natref-raffinadery in Sasolburg besit van hom koop.

Sasol is die ander aandeelhouer in Natref met 'n belang van 63,64%.

Natref is buiten die Astron Energy-raffinadery in Milnerton, Kaapstad, die enigste oorblywende raffinadery in Suid-Afrika wat ruolie tot brandstofprodukte verwerk.

Sowel Sapref en Enref, die ander twee olieraffinaderye in die land, is al gesluit en verkoop. Die enigste aanlegte in Suid-Afrika wat plaaslik brandstof produseer is Natref, Astron Energy en Sasol se Secunda-aanleg wat brandstof uit steenkool en aardgas verwerk.

Die staatsbeheerde PetroSA sukkel nog om sy gas-tot-brandstofaanleg in Mosselbaai weer op die been te kry.

Die Mededingingskommissie het aan die Mededingingstribunaal aanbeveel dat Prax SA die belang van TotalEnergies in die Natref-raffinadery mag oorneem, onderhewig aan voorwaardes.

Prax SA is deel van die Prax Group in Brittanje wat ruolie, brandstofprodukte en biobrandstof in Brittanje verwerk, vervaardig en versprei.

Tot dusver het Prax nog geen bedrywighede in Suid-Afrika of sy buurlande gehad nie. Hy het benewens kantore in Brittanje en Europa verteenwoordiging in Houston, Amerika, en in Singapoer.

Prax het al in Desember verlede jaar aangekondig hy het 'n verkoopsooreenkoms onderteken om TotalEnergies se belang in Natref te koop. Dit is beskou as Prax se toetrede tot die Suid-Afrikaanse mark. Prax het in Desember gesê hy wil die transaksie gebruik as die volgende stap in sy internasionale groeistrategie en om Natref te benut as fokuspunt vir sy uitbreiding na die res van Afrika.

Prax dink hy kan Natref se mededingendheid verbeter deur toekomstige strategiese belegging.

Die Mededingingskommissie glo die oorname deur Prax SA sal nie mededinging in enige mark wesentlik verminder of verhoed nie. Een van die voorwaardes wat die kommissie stel, is dat Prax SA 'n bemagtigingsvennoot as medeaandeelhouer vir Natref moet vind. Hy moet ook vir tot vyf jaar ná die verkryging 'n wesentlike kapitaalbedrag bestee om Natref se bedrywighede te steun. Die kommissie het nie in sy verklaring Donderdag gespesifiseer wat die bedrag moet wees nie.

Die nuus kom pas nadat BP en Shell bevestig het dat die staatsbeheerde Sentrale Energiefonds, beheergroep van PetroSA, die Sapref-raffinadery gaan koop.

Sasol het in 2022 al laat deurskemer dat hy ook oor die toekoms van sy belang in Natref besin.

Paul Victor, destydse finansiële direkteur van Sasol, het toe al toegegee dat Natref nie te winsgewend bedryf word nie. Soos die ander brandstofmaatskappye het Sasol en TotalEnergies nie kans gesien om miljarde in die opknapping van Natref te belê om skoner brandstof sonder hulp van die regering te produseer nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM