Energie

Jongste kragplan in November gereed, beloof regering

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, by Sondag se inligtingsessie oor die kragkrisis. Foto: GCIS
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, by Sondag se inligtingsessie oor die kragkrisis. Foto: GCIS

Die jongste hersiene bloudruk vir kragopwekking in Suid-Afrika behoort teen November deur die kabinet goedgekeur en gepubliseer te word, het die parlement Vrydag gehoor.

Samantha Jane Graham, adjunkminister van elektrisiteit en energie, sê honderde kommentare oor die hersiene geïntegreerde hulpbronplan (IRP) word nou deurgegaan.

Jacob Mbele, direkteur-generaal van die departement van minerale bronne en energie, het Vrydag 'n oorsig gegee aan die parlement se nuwe portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie oor vordering met die hersiening van die IRP, asook die geïntegreerde energieplan (IEP).

Art. 6 van die Nasionale Energiewet bepaal volgens Mbele die minister moet jaarliks 'n IEP publiseer. Dit moet gaan oor energiesekerheid, ekonomies beskikbare energiebronne, bekostigbaarheid, universele toegang en gratis basiese elektrisiteit.

Volgens Mbele is art. 6 jare lank nooit in werking gestel nie, en was dit eers in 2006 dat die IEP vir die eerste keer saamgestel is. Die departement word dus nou wetlik verplig om jaarliks 'n IEP op te stel.

Die IEP is 'n breë energieplan vir die land, terwyl die IRP spesifiek op elektrisiteitsverskaffing toegespits is.

Die IEP dek oorhoofs elektrisiteit, gas, en brandstof. Elektrisiteit word gedek deur die IRP, gas deur die gasmeesterplan, en brandstof deur 'n vloeibarebrandstofplan.

Volgens die departement is die mikpunt om vanjaar reeds 'n nuwe elektrisiteit- en gasplan op te stel.

Die mikpunt is dat die kabinet die finale IEP teen die tweede kwartaal van die 2025-'26-boekjaar moet goedkeur - dus teen September 2025.

Mbele het beklemtoon die opstel van die IEP is 'n baie gedetailleerde en komplekse taak, veel meer as die IRP.

Dit kyk na die interaksie tussen die onderskeie energiebronne. Die IEP sal byvoorbeeld kyk wat die impak van die groter gebruik van elektriese voertuie op sowel die brandstofbedryf as die kragbedryf sal wees.

Die IRP is in 2011 opgestel, maar die werk aan die volgende een is eers in 2013 begin en eers teen 2019 afgehandel.

Dit wys hoe omvattend dit is om die plan te hersien. Mbele sê sodra 'n weergawe gepubliseer is, is die aannames daarin die volgende dag reeds uitgedien omdat tegnologie en ander faktore gedurig verander.

Hy gee toe die IRP is bepalend vir die kragbedryf omdat dit 'n idee gee hoeveel van watter tegnologie deur die staat verkry gaan word vir kragopwekking.

Sedert die eerste IRP in 2011 was daar al nege bodrondes vir onafhanklike kragopwekkingtenders, 139 onafhanklike kragprodusente is al aangestel om 12 417 MW se kragopwekking te bou en 7 335 MW is al in bedryf. Tans is 8 231 MW se opwekkingskapasiteit in die mark wat vanjaar beoordeel sal word vir tenders.

Van die aannames wat verander het sedert die vorige IRP is die steenkoolkragstasies se prestasie wat versleg het. Dit is tans laer as wat in die IRP2019 verwag is. Daar was ook veranderinge in die plan vir die sluit van ou kragstasies.

Nog 'n verandering is die besef van die omvang waarteen beperkte transmissiekapasiteit die uitbreiding van nuwe groenkragprojekte verhinder.

Die aannames oor kragvraag het ook verander. Weens laer ekonomiese groei asook weens beurtkrag is daar laer vraag na krag.

Meer as 14 000 km se nuwe transmissielyne en meer as 100 nuwe transformators is nodig.

Die belangrike aannames wat gebruik word in die IRP sluit in 'n kragvraagvooruitskatting, die prestasie van bestaande kragstasies, die tegnologie-opsies en hul koste, 'n plan vir die sluiting van ou kragstasies, en die verkryging van nuwe opwekkingskapasiteit soos kernkrag, skoonsteenkooltegnologie of groenwaterstof.

Verskillende scenario's teen verskillende energiebeskikbaarheidsfaktore (EBF's) wat Eskom moontlik kan bereik, is uitgewerk.

Verskillende energie-rigtings is bekyk, byvoorbeeld slegs hernubare energie, hernubare energie plus kernkrag, 'n vertraagde sluiting van steenkoolkragstasies, en hernubare energie plus nuwe steenkooltegnologie.

Die waarnemings van die span is dat windkrag en sonkrag nie voldoende is om kragtekorte teen te werk as steenkoolkragstasies swakker vaar nie.

'n Beter opsie is om die EBF van bestaande kragstasies te verbeter, en om gaskragstasies te bou, volgens die departement.

Van 2031 tot 2050 sal 'n massiewe bouprogram vir nuwe kragopwekking nodig wees. Groter gebruik van groenkrag en skoontegnologie sal die kragstelsel skoner maak en help om die teikens vir kweekhuisgasvrystellings te haal, maar dit verskaf nie kragsekerheid nie en is die duurste om in werking te stel, volgens die departement.

Die volgende stap vir die IRP is dat dit teen November gepubliseer sal word.

Volgens Mbele is die ontleding van al die kommentare op die konsepplan nou deurgewerk. Dit word ook gestuur na kenners by die Universiteit van Kaapstad. Inligting oor die koste van kragopwekkingstegnologie word ook ingewin van 'n elektrisiteitnavorsingsgroep in Amerika waarvan Eskom 'n lid is.

Die uiteindelike doel is om bekostigbare en betroubare krag te lewer, teen die laagste koste vir die ekonomie en teen so min as moontlik omgewingskade en kweekhuisgasvrystellings. Die kriterium van laagste koste vir die ekonomie is volgens Mbele nie noodwendig in ooreenstemming met die laagste koste van spesifieke tegnologie nie.

'n Span wat energiebeplanning in Eskom doen, help ook met die IRP.

Teen Saterdag sal 150 dae van geen beurtkrag al verloop het, het Graham gesê.

Die Kriel-kragstasie se EBF het van 39% tot 89% verbeter onder leiding van 'n vrou aan die stuur as kragstasiebestuurder, het Graham gesê.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM