Die Koeberg-kernkragaanleg se eenheid 1 het Sondag 40 jaar van die veilige bedryf van kernkragopwekking in Suid-Afrika gevier.
Dit kom enkele dae nadat die Nasionale Kernreguleerder (NKR) ingestem het om Eskom se lisensie vir die bedryf van die reaktor met 20 jaar tot 21 Julie 2044 te verleng.
Eskom gaan eenheid 1 gevolglik nou eers in Januarie volgende jaar vir instandhouding en brandstofhervulling sluit.
Eskom wou dit aanvanklik op 21 Julie vir druktoetse en ander instandhouding uit diens stel. Nou kan dié eenheid se 930 MW help om die land deur die winter teen beurtkrag te beskerm.
Eskom het Sondag in 'n verklaring gesê Koeberg het tot dusver betroubare skoon en bekostigbare elektrisiteit opgewek en 'n kernrol in die ekonomiese ontwikkeling van die land gespeel.
Bouwerk by Koeberg het op 1 Julie 1976 begin en eenheid 1 het vir die eerste keer op 21 Julie 1984 die kommersiële bedryf betree. Eenheid 2 het later gevolg en is op 9 November 1985 in bedryf gestel.
Met die meeste van Suid-Afrika se kragstasies wat in Mpumalanga, meer as 1 500 km van Kaapstad, geleë is, is Koeberg 'n kritieke anker vir die land se transmissienetwerk in die Wes-Kaap.
Die ligging verminder aansienlike transmissieverliese wat geassosieer word met die vereistes van kragverskaffing in Kaapstad en omliggende gebiede.
Dan Marokane, uitvoerende hoof van Eskom, het in die verklaring gesê die mylpaal van 40 jaar is 'n bewys dat die land beskik oor die mense met die regte kennis, vaardighede, ervaring en vermoëns om 'n kernkragstasie veilig te bedryf.
"Koeberg sal met die suksesvolle verkryging van die lisensie om vir 'n bykomende 20 jaar in bedryf te bly, 'n kritieke rol speel om koolstofuitlating te verminder en voort te gaan om 'n vaardige werkmag in kernkrag in stand te hou en te bou."
Bheki Nxumalo, uitvoerende hoof van opwekking by Eskom, het op sy beurt gesê Koeberg is 'n sleutelbydraer tot Eskom se energiemengsel en die stabilisering van kragverskaffing in Suid-Afrika deur betroubare basisladingkrag te verskaf.
"Dit help om die sekerheid van energie van die land te verhoog en verskaf kritieke megawatts om die nasionale gaping in energieverskaffing te vernou. Dit sal voortgaan om 'n sleutelrol te speel namate Eskom aggressief beweeg om 'n skoner energieportefeulje te lewer."
Keith Featherstone, hoof van kernkrag by Eskom, het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor alle huidige en vorige personeellede, asook kontrakteurs van Koeberg, vir die "instandhouding van uitstekende kernveiligheid, operasionele prestasie en omgewingsrentmeesterskap vir vier dekades".




















