Die staatsbeheerde brandstofmaatskappy PetroSA het weer 'n waarnemende hoof nadat die huidige hoof van sy bedryfstake verskoon is hangende 'n ondersoek.
PetroSA, eienaar van die gas-tot-brandstofaanleg in Mosselbaai en deel van die Sentrale Energiefonds, het Donderdagmiddag aangekondig hy het Mmete Fusi as waarnemende uitvoerende hoof aangestel.
Die aanstelling geld met onmiddellike ingang, nadat Xolile Sizani, sy huidige uitvoerende hoof, volgens PetroSA "van bedrywighede verskoon is hangende die uitslag van 'n ondersoek". PetroSA gee nie meer besonderhede oor wat die ondersoek behels nie.
PetroSA is midde-in 'n voortslepende geld- en bedryfskrisis om sy aanleg in Mosselbaai weer aan die gang te kry, maar die manier waarop hy dit tot dusver aangepak het, ontlok uit verskeie oorde skerp kritiek. PetroSA het 'n omstrede sakeman, Lawrence Mulaudzi, se maatskappy genaamd Equator Holdings deur 'n tender aangestel om hom te help om sy gasinfrastruktuur te herstel en op te knap om die herstel van die gas-tot-brandstofaanleg te ondersteun.
Terselfdertyd het PetroSA die Russiese staatsbank GazpromBank aangestel om hom te help om die aanleg self weer op die been te kry.
Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, het voorheen die transaksie met die Russiese groep verdedig en gesê hy is nie bang om met die Russe sake te doen nie. GazpromBank is 'n afdeling van Gazprom, die Russiese staatsbeheerde gas-entiteit met omvattende kundigheid in gaspypleidings en ander gasbedrywighede.

Die regering is in 'n proses om PetroSA met iGas en die Strategiese Brandstoffonds, twee ander filiale van die Sentrale Energiefonds, te laat saamsmelt om 'n nuwe nasionale brandstofmaatskappy te vorm.
Maar PetroSA se krisis met die aanleg wat stilstaan omdat hy nie meer gasreserwes oor het om daar te verwerk nie, het veroorsaak dat dié deel van die onderneming eers opsy gehou word van die samevoeging. Dit moet eers reggeruk word voordat dit deel kan word van die nuwe staatsoliemaatskappy.
Sizani is maar nog net 'n paar maande in die pos. Hy is in Februarie aangestel. PetroSA het egter 'n baie swak rekord wat leierskapstabiliteit betref. Sizani het Sesakho Magadla opgevolg wat net vir twee weke in Februarie waargeneem het. Magadla het Sandisiwe Ncemane opgevolg, wat Pragasen Naidoo op haar beurt opgevolg het. Naidoo is in 2020 aangestel, maar het ook net 'n jaar en 'n half in die pos uitgehou.
Sizani se aanstelling het gevolg op die omstredenheid oor Nkululeko Poya, wat voorsitter van PetroSA was en skynbaar self in die pos van uitvoerende hoof belang gestel het. Hy was selfs die amptelike voorstel van Mantashe aan die kabinet teen einde verlede jaar.
Maar Poya het toe later die onderwerp van 'n ondersoek deur die Valke geword, oor wat 'n vermeende vals hofbevel is.
Fusi is 'n vorige hoof van Transnet International Holdings wat 'n filiaal van Transnet was om internasionale groeigeleenthede vir Transnet na te streef. Fusi het voor sy loopbaan by Transnet 18 jaar lank as prosesingenieur en minerale ekonoom in Suid-Afrika gewerk. Hy was van 2019 tot onlangs voorsitter van die Petroleumagentskap van Suid-Afrika, wat ook 'n filiaal van die Sentrale Energiefonds is.
Hy is 'n gekwalifiseerde chemiese ingenieur en beskik ook oor 'n MBA-graad en 'n Harvard-kwalifikasie in infrastruktuurfinansiering.
















