Energie

Kragnetwerk ‘stabiel en betroubaar’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Eskom sê die kragnetwerk is “stabiel en betroubaar”.
Eskom sê die kragnetwerk is “stabiel en betroubaar”. (Foto: Gallo Images)

Met die winter op sy rug blyk die nasionale kragnetwerk stabiel en betroubaar te wees, wat Eskom se verbintenis bevestig om beurtkrag te beëindig.

Suid-Afrika het Vrydag 105 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag gehad, het die kragvoorsiener in sy weeklikse verklaring oor die stand van die land se kragnetwerk gesê. Dit word ondersteun deur lae vlakke van onbeplande kragonderbrekings, wat die volgehoue verbetering in die prestasie van Eskom se kragstasies beklemtoon.

Die mylpaal bou op die momentum van die vorige boekjaar waarin 352 dae sonder beurtkrag ervaar is. Suid-Afrika het sedert 15 Mei vanjaar geen beurtkrag ervaar nie, buiten 26 uur wat tussen 1 April en 28 Augustus voorgekom het.

Volgehoue tegniese verbeteringe het volgens Eskom ’n betroubare kragnetwerk verseker wat in meer as 97% van die kragaanvraag die afgelope winter en in die boekjaar tot op datum voorsien het.

Veerkragtigheid

Die veerkragtigheid van sy opwekkingseenhede gaan volgens Eskom voort om te verbeter.

Beplande instandhouding het tussen 15 en 28 Augustus toegeneem en op gemiddeld 6 968 MW gestaan.

Die energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) het in dié tydperk tussen 64% en 75% gewissel met die maandelikse gemiddeld tot op datum wat tot 66,15% geklim het.

“Dié opwaartse neiging weerspieël groeiende stabiliteit en verbeterde betroubaarheid oor al die opwekkingseenhede heen.”

Eskom beplan om Maandag (1 September) voor die aandspitstyd en deur die komende week 4 830 MW in opwekkingskapasiteit tot die kragnetwerk terug te voeg.

Onbeplande verliese aan opwekkingskapasiteit

Die onbeplande kapasiteitsverliesfaktor – wat die persentasie opwekkingskapasiteit uit onbeplande kragonderbrekings weerspieël – het tussen 1 April en 28 Augustus verder tot 27,3% gedaal. Dit verteenwoordig ’n week-op-week-verbetering van sowat 0,55%, hoewel dit sowat 1,6% hoër as die 25,67% bly wat in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar aangeteken is.

Diesel

Dieselverbruik vir Eskom se oopsiklusgasturbines het verlede week gedaal teenoor die vorige week en bly goed onder die toegekende begroting.

Eskom het egter oor ’n tydperk van sowat vyf maande vanaf begin April tot 28 Augustus R5,92 miljard aan diesel bestee vir sy oopsiklusgasturbines wat 1 000,89 GWh opgewek het. Dit verteenwoordig ’n beduidende styging teenoor die 525,44 GWh wat in dieselfde tydperk verlede jaar opgewek is.

Met die wintervooruitsig wat op 5 Mei gepubliseer is en die periode dek wat op 31 Augustus eindig, bly die kragnetwerk goed geplaas om stabiel te bly en betroubaar in aanvraag te voorsien. Ingevolge daarvan sal beurtkrag nie noodsaaklik wees as onbeplande kragonderbrekings onder 13 000 MW bly nie. As onderbrekings tot 15 000 MW styg, sal beurtkrag tot ’n maksimum van 21 dae op fase 2 beperk word.

Eskom is geskeduleer om sy somervooruitsig in September aan te kondig.

Die kragverskaffer is verplig om ladingsvermindering in geïsoleerde hoërisikogebiede gedurende spitstyd toe te pas om kritieke infrastruktuur te beskerm en potensiële skade te voorkom.

– philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM