Elektrisiteitsverkope was naas staatsoordragte en -subsidies die grootste bydraer tot die munisipale inkomste van R517 miljard in die boekjaar tot 30 Junie 2023.
Dit blyk uit 'n verslag oor die finansiële sensus van munisipaliteite, wat Statistieke Suid-Afrika Donderdag uitgereik het.
Staatsoordragte en -subsidies was verantwoordelik vir 27,7% van die munisipale inkomste in 2023, gevolg deur elektrisiteitsverkope (25,6%), eiendomsbelasting (16,6%), ander inkomste (12,7%) - onder meer boetes, lisensies, permitte en ander oordragte en subsidies - en waterverkope (10,5%).
Vullisverwyderingskoste (2,7%) en riool- en sanitasiekoste (4,3%) was die kleinste bydraers tot munisipale inkomste.
In 2022 was elektrisiteitsverkope op 27,4% die grootste bydraer tot die totale munisipale inkomste van R475,3 miljard vir die jaar tot 30 Junie.
Dit is gevolg deur staatsoordragte en -subsidies (27,1%), eiendomsbelasting (16,8%), ander inkomste (11,5%), waterverkope (10,3%), vullisverwyderingskoste (2,8%) en riool- en sanitasiekoste (4,1%).
Uitgawes
Personeelverwante koste was op 26,4% die grootste bydraer tot die totale munisipale bedryfsuitgawes van R504,7 miljard in die boekjaar tot 30 Junie 2023.
Dit is gevolg deur elektrisiteitsaankope (22,6%).
In 2022 was personeelkoste (26,9%) ook die grootste bydraer tot die totale munisipale bedryfsuitgawe van R475,3 miljard, terwyl elekrisiteitsaankope 23,5% beloop het.
Wateraankope het van R27,1 miljard in 2022 met 7,6% tot R29,2 miljard in 2023 toegeneem, terwyl waterverkope met 10,7% van R49 miljard tot R54,2 miljard gestyg het.
Elektrisiteitsaankope het van R111,5 miljard met 2,3% gestyg tot R114 miljard, terwyl elektrisiteitsverkope van R130,4 miljard met 1,3% tot R132,1 miljard gestyg het.
Skuld
Munisipaliteite het teen 30 Junie 2023 'n gekombineerde bedrag van R356 miljard aan hul leners, verskaffers en ander krediteure geskuld. Dit is 6,9% meer as die R333,1 miljard wat hulle teen 30 Junie 2022 geskuld het.
Die provinsies wie se skuldvlakke die meeste gestyg het van 2022 tot 2023, was Mpumalanga (+16,1%), die Noord-Kaap (+13,4%), KwaZulu-Natal (+12,9%), die Vrystaat (+10,3%) en Noordwes (+9,8%).
Gauteng (+2,6%), die Oos-Kaap (+4,8%) en die Wes-Kaap (+4,8%) se skuldvlakke het met die laagste persentasies gestyg.
Limpopo was die enigste provinsie wie se skuldvlakke gedaal het, naamlik met 1,6%.





















