Energie

Nersa na appèlhof oor munisipale kragtariewe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit. Foto: Theo Jeptha
Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit. Foto: Theo Jeptha

As Eskom gouer wegskuif van steenkool en vinniger na groenkrag skuif, kan sy aanspreeklikheid vir koolstofbelasting skerp verlaag word.

Dit sou sy kragtariefverhogings met tot vyf persentasiepunte kon verminder, het dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, Woensdag gesê.

Hy het aan die parlement gesê daar kan verder nog twee tot drie persentasiepunte van Eskom se tariefverhogings verwyder word as die probleem van munisipale skuld aan Eskom opgelos kan word.

Hy het gepraat op 'n vergadering van die portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie waar die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) aangedui het hy gaan by die appèlhof teen die onlangse hofbeslissing teen hom appelleer.

Die hofuitspraak in Augustus, wat Nersa in werklikheid opdrag gee om talle munisipaliteite te dwing om hul kragtariewe dieselfde te hou as die vorige jaar, sal die onvolhoubaarheid van munisipale kragverskaffing verder vererger.

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie. Foto: Theo Jeptha
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie. Foto: Theo Jeptha

Dit plaas Eskom onder 'n nog groter risiko, het adv. Nomalanga Sithole, uitvoerende hoof van Nersa, gesê.

Die saak het gegaan oor die wetlike vereiste dat munisipaliteite kostestudies moet doen op grond waarvan hul jaarlikse kragtariewe bereken moet word. Maar Nersa kon net 78 munisipaliteite sover kry om dié duur studies te doen, en vir die res het Nersa munisipaliteite se eie syfers probeer gebruik om hulle te help om hul tariefverhogings vir die lopende jaar te bereken.

Nersa waarsku egter dat die hofbeslissing munisipaliteite se volhoubaarheid raak. Dit sal Eskom langer blootstel aan munisipaliteite wat nie hul rekeninge by Eskom sal kan betaal nie.

Dit sal ekonomiese ontwikkeling en die tegniese vermoë om infrastruktuur in stand te hou, ontwrig.

Die gebruik van die kostestudies het in sommige gevalle aangedui dat munisipaliteite se kragpryse op grond daarvan met soveel as 57% en selfs 61% moet styg, soos in die geval van Kai! Garib en Ba-Phalaborwa. Maar Nersa het op die ou end die tariefverhogings tot onderskeidelik 13,7% en 12,92% beperk. Lephalale se kostestudie het gewys sy kragtarief moet eintlik met 56,7% verhoog word, maar Nersa het dit toe maar tot 10,3% beperk.

Thembani Bukula, voorsitter van Nersa, het verduidelik sommige munisipaliteite koop krag by Eskom teen tydgebruiktariewe (dit wil sê na gelang van wanneer die krag gebruik word, word meer of minder betaal, bv. krag is duurder in spitstye of in die winter), maar dieselfde munisipaliteite se kliënte betaal op hul beurt nié soortgelyke tydgebruiktariewe nie.

Welile Mkhize, waarnemende elektrisiteitsreguleerder by Nersa, sê voor 2024 is 'n riglyn oor persentasieverhogings gebruik om munisipaliteite te help met die bepaling van tariewe vir verskeie klasse van kliënte.

Buitensporige stygings in kragtariewe kan deels aan munisipale skuld aan Eskom toegeskryf word. Foto: Unsplash
Buitensporige stygings in kragtariewe kan deels aan munisipale skuld aan Eskom toegeskryf word. Foto: Unsplash

Die hof het bevind die metodologie was onwettig en Nersa en die munisipaliteite het tot Oktober verlede jaar gekry om die riglyn en metodologie te verander, om dit te skuif na 'n kostegebaseerde tariefproses.

Nersa het in November verlede jaar briewe aan munisipaliteite gestuur om te vra dat hulle verskaffingskostestudies doen. Volgens Mkhize het Nersa besef baie munisipaliteite sal nie die kostestudies betyds kan doen nie.

Munisipaliteite het nie die vaardighede en kapasiteit om die kostestudies te doen nie, en ook nie die geld daarvoor nie. Nersa het die firma Sustainable Energy Africa (SEA) gevra om munisipaliteite te help. Verskeie werksessies en opleidingsessies is op versoek gehou. SEA het kostestudies namens sommige munisipaliteite gedoen.

Met die kombinasie van twee benaderings kon Nersa uiteindelik 177 munisipale tariefaansoeke goedkeur.

Met die nuwe benadering het sekere tariewe baie skerp gestyg weens die kostestudies of kostegebaseerde strukture.

Nersa was bewus van die ekonomiese uitdagings en het probeer om verhogings tot 12% tot 15% te beperk.

Ramokgopa het gesê Suid-Afrika se kragkoste is steeds onder die gemiddelde internasionale kragprys, maar armes en selfs die middelklas kan die weghol-tariefverhogings nie meer bekostig nie.

Dit ondermyn die mededingendheid van nywerhede in die land, en ondermyn mense se lewenstandaard, sê Ramokgopa.

Van die aspekte wat tot die skerp prysstygings lei, is volgens hom buite Nersa se beheer, want dit is beleidskwessies.

"Die verkose verteenwoordigers is die mense wat die beleidsraamwerk bepaal. Nersa werk bloot binne die beleidsraamwerk en dit help nie om modder na Nersa te gooi nie," het Ramokgopa gesê.

Volgens Bukula moet Nersa as reguleerder slegs doen wat die wetgewing hom verplig om te doen, niks minder en niks meer nie.

Nersa se taak is om tariewe en pryse van elektrisiteit te reguleer. Dit moet 'n doeltreffende lisensiehouer toelaat om die koste van kragopwekking te verhaal plus 'n redelike winsmarge.

Die gemiddelde prys moet sorg dat die nutsmaatskappy die toelaatbare inkomste verhaal, wat die energiekoste, die netwerkgebruikkoste en die dienskoste insluit.

Brian Molefe, voormalige Eskom-hoof wat nou 'n MKP-lid in die portefeuljekomitee is, het aangevoer kragpryse word deur steenkoolpryse gedryf. "In Suid-Afrika dikteer verkopers die pryse aan die enkele koper, Eskom."

Volgens Molefe behoort die steenkoolprys gereguleer te word om 'n impak op kragpryse te kan hê.

Daar is 257 munisipaliteite in die land, waarvan 178 gelisensieer is om krag te versprei.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM