Die brandstofmaatskappy BP Suider-Afrika (BPSA) wil wys hy is in Suid-Afrika om te bly.
Te midde van sy mededinger Shell se besluit onlangs om sy Suid-Afrikaanse brandstofbedrywighede te verkoop, het BPSA vandeesweek 'n mediaverklaring uitgereik om te sê hy vier vanjaar sy 100-jarige bestaan in Suid-Afrika.
Die maatskappy het op 9 Mei 1924 in Suid-Afrika begin sake doen as die Atlantic Refining Company of South Africa. Die naam is in 1959 na BP verander. Dit was tot en met 'n bemagtigingstransaksie in 2001 'n volfiliaal van die Britse oliereus BP plc (public limited company of ope maatskappy).
BPSA het op die oomblik sowat 500 vulstasies in die land en besit saam met Shell die Sapref-raffinadery in Durban wat tans gesluit is. BPSA het by navraag gesê geen ooreenkoms is nog met enige potensiële koper van die raffinadery beklink nie. Dit is steeds gesluit sedert die vloede in KwaZulu-Natal in April 2022, hoewel BPSA en Shell al in Maart daardie jaar die aanleg gesluit het.
Shell het aangedui hy wil sy belang in Sapref verkoop tesame met sy ander brandstofbedrywighede in die land, wat 'n netwerk van byna 600 vulstasies insluit.
Volgens BPSA stel die staatsbeheerde Sentrale Energiefonds (SEF) steeds daarin belang om Sapref oor te neem, maar is geen ooreenkoms nog bereik nie en wil BPSA nie nou enige verdere inligting gee nie. Die SEF wou ook nie vroeër by navraag enige inligting oor sy gesprekke met Shell en BPSA gee nie.
Daar was einde verlede jaar sprake daarvan dat die transaksie van die baan is omdat dit te duur gaan wees om die raffinadery ná die vloedskade te herstel.
BP stel self nie daarin belang om Shell se bedrywighede in die land oor te neem nie. Die brandstofmaatskappy glo ook nie juis dat Shell se onttrekking plaaslike brandstofvoorsiening sal raak nie omdat hy net een van talle rolspelers in die bedryf is.

BPSA het intussen beklemtoon hy beplan oor die komende maande 'n program van eeufeesvieringe om werknemers, vennote, vulstasie-eienaars en ander belanghebbers te bedank. Die maatskappy wil selfs in sekere gemeenskappe sy eeufees vier deur studente se skuld op universiteitsgeld namens hulle te delg. Volgens BPSA sal besonderhede hieroor binnekort aangekondig word.
In teenstelling met Shell wat disinvesteer, wil BPSA wys hy is tot die land verbind. In hierdie trant het hy 'n spesiale embleem vir sy 100-jarige viering laat ontwerp, waar die twee nulle van die getal 100 in die wiskundige simbool vir oneindigheid omskep is.
Taelo Mojapelo, uitvoerende hoof van BPSA, sê die maatskappy is daartoe verbind om 'n verantwoordelike, doeltreffende en vooruitstrewende bewaarder van Suid-Afrika se energievoorsieningsnetwerke te bly "so lank as wat die land ons nodig het".
BPSA was benewens met olieraffinering ook met steenkoolmynbou in Suid-Afrika betrokke, maar het hom mettertyd daaraan onttrek.
Van die hoogtepunte uit die maatskappy se eeu in Suid-Afrika sluit in dat BPSA die eerste plaaslike brandstofgroep was wat lood uit petrol verwyder het, nog voor die regering se spertyd daarvoor, sê die maatskappy.
Hy was ook een van die eerste brandstofmaatskappye wat 'n bemagtigingstransaksie gesluit het deur 'n gesamentlike onderneming met voorheen benadeelde Suid-Afrikaners in die vorm van Masana Petroleum Solutions te skep. BP was verder ook die eerste internasionale oliemaatskappy wat 'n vrou as uitvoerende hoof aangestel het.
BPSA het strategiese planne om sy netwerk van meer as 500 vulstasies uit te brei en op te knap en om terselfdertyd meer vulstasies te kry wat deur swart entrepreneurs besit word of deur swart franchisehouers bestuur word. Hy wil ook sy brandstofvoorsiening verbeter.
BPSA se hoofkantoor is in Rosebank, Johannesburg.




















