Petrol word Woensdag soos verwag 25c per liter duurder en diesel se groothandelspryse word met 20c en 21c per liter verhoog.
Hoewel die rand in die oorsigtydperk teen die dollar versterk het, was dit nie genoeg om die opwaartse beweging in internasionale brandstofpryse teen te werk nie, blyk dit uit die syfers wat die departement van minerale bronne en petroleum Maandag uitgereik het.
Internasionale petrolpryse het van 27 September tot einde Oktober met 33,5c per liter gestyg. Die impak van die rand se verstewiging teenoor die dollar was egter net sowat 8,3c per liter, wat die finale gemiddelde onderverhaling op petrolpryse op 25,2c per liter te staan gebring het.
Gevolglik gaan 95-oktaan-petrol aan die kus Woensdag van R20,26 per liter tot R20,51 per liter verhoog word.
Die verhoging in Gauteng is van R21,05 tot R21,30.
Die groothandelspryse van diesel met 'n swaelinhoud van 0,05% gaan met 21c per liter styg en dié van diesel met 'n swaelinhoud van 0,005% met 20c per liter.
In Gauteng sal diesel met 'n swaelinhoud van 0,05% in die groothandel nou R18,66 per liter kos teenoor R18,45 tevore. Aan die kus styg groothandeldiesel van R17,66 na R17,87 per liter.
Paraffienpryse en die prys van vloeibare petroleumgas gaan ook styg. Paraffien se groothandelsprys styg met 21 per liter en vloeibare petroleumgas word 36c per kilogram duurder.
Ondanks die komende prysverhoging ná vyf agtereenvolgende maande van dalings, kos petrol van Woensdag af steeds 10,8% minder as 'n jaar gelede.





















