Die regering wil ingryp om kragtariewe laer te hou nadat Eskom se aansoek dat kragtariewe volgende jaar met 36,15% styg, rooi ligte in 'n reeds beleërde ekonomie laat flikker het.
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, sê hy is vol vertroue dat daar teen die einde van die jaar opgetree sal word voordat Nersa oor Eskom se aansoek moet beslis.
Eskom se tariefstygings is al minstens sedert 2010 hoër as die inflasiekoers - ná jare van stygings wat soms selfs laer as die inflasiekoers was.
Die gemiddelde prys van 'n kilowattuur (kWh) het in 2006 R0,39 beloop teenoor R1,97 tans.
Die gemiddelde jaarlikse inflasiekoers van 2006 tot nou was 5,6%. Oor dieselfde tydperk het Eskom se kragtariewe jaarliks gemiddeld met 10,83% gestyg.
As Eskom se tariewe sedert 2006 jaarliks teen die gemiddelde inflasiekoers gestyg het, sou 'n kWh vanjaar slegs R1,03 gekos het - 47,7% minder.
'n Beleidsingryping kan 'n mate van verligting bring, het Ramokgopa Dinsdag op Standard Bank se klimaatsberaad in Johannesburg gesê.
Eskom se jongste tariefaansoek is die sesde veeljarige prysbepalingsdokument wat hy al by Nersa ingedien het en sit uiteen hoeveel inkomste hy moet kry in die drie boekjare tot einde Maart 2028.
Hy vra ná die 36,15%-styging in die 2025-'26-boekjaar 'n verdere onderskeidelik 11,8% en 9,1% in die oorblywende twee boekjare tot 2028.
Hy draai nie doekies om oor hoekom hy dié stygings nodig het nie: Dié skerp stygings moet vergoed vir jare van te lae tariefverhogings.
"Die gemiddelde prys van elektrisiteit dek steeds nie die volle werklike koste en Eskom se koste van kapitaalbeleggings nie," lui die aansoek.
Vir die nutsmaatskappy kom dit neer daarop dat die verlies wat hy ly om krag aan die land te verskaf uiteindelik óf deur hoër tariewe (soos versoek) óf deur verdere reddingsboeie wat deur belastingbetalers gefinansier word, gestuit moet word.
Ramokgopa sê daar mag nie toegelaat word dat die finansiële nielewensvatbaarheid van Eskom se sakemodel die nutsmaatskappy verder agteruit laat boer nie.
Daarbenewens wil die regering nie die vermoë van die ekonomie om te groei ondermyn en die armes dieper in armoede druk nie, het hy gesê.
Die regering het in Februarie 2023 'n reddingsboei van R254 miljard in die vorm van 'n skuldverligtingspakket aan Eskom toegeken, wat toe binne 'n jaar met R4 miljard besnoei is weens nienakoming van een van die pakket se vereistes.
"Ons sal die (beoogde) verligting aan almal bied," het Ramokgopa Dinsdag gesê. Hy het nie gespesifiseer watter stappe gedoen gaan word nie, behalwe dat die regering sekere vereistes wat hy aan Eskom gestel het, kan opskort.
"Ek is vol vertroue dat dit (36,15%) nie die syfer is wat ons sal sien nie."
Die Kaapstad-metro het reeds gesê hy beoog regstappe teen die voorgestelde tariefverhogings.
Op 18 Julie, kort ná die vorming van die regering van nasionale eenheid, het pres. Cyril Ramaphosa in 'n toespraak gesê die regering sal stappe doen om stygings in verskeie geadministreerde pryse, soos dié van elektrisiteit, in toom te hou.



















