Beurtkrag is meer as vier maande laas ingestel, maar vir etlike honderdduisende sleep tot 12 uur lange kragonderbrekings daagliks voort.
Dis veral die geval in Johannesburg, waar die regverdigings nie heeltemal sin maak nie.
City Power, Johannesburg se kragverskaffer, het op 14 Junie, ná dae van waarskuwings oor "uiterste" druk op sy kragstelsel, aangekondig dat hy ingrypings doen om sy kragnetwerk teen "ineenstorting" te beskerm.
Die eerste van dié ingrypings behels die stad se toepassing van sogenaamde ladingsvermindering (load reduction), wat voorheen slegs deur Eskom benut is as 'n omstrede metode om die oorlading van kraginfrastruktuur te vermy.
Eskom het al gereeld dié metode vir twee tot vier uur soggens en saans, hoofsaaklik in gebiede met baie onwettige kragverbindings, ingespan.
City Power het dit nou tot ses uur soggens en ses uur saans verhoog. Meer as 80 woonbuurte in die Johannesburgse metro het nou vir tot 12 uur per dag geen krag nie.
City Power se regverdiging hiervoor is tweeledig:
• kragverbruik in die metro het die hoogte ingeskiet; en
• onwettige kragverbindings oorlaai die infrastruktuur.
Vandeesmaand het Eskom, op sy beurt, 'n hernieude program van ladingsvermindering in sewe provinsies aangekondig.
Altesaam word 357 000 van Eskom se eie kliënte nou vir tot agt uur daagliks van die kragnetwerk afgesny.
"Die probleem is algemeen in Eskom-toevoergebiede in Limpopo, die Wes- en Oos-Kaap, Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Noordwes," lui die nutsmaatskappy se verklaring.
In dié sewe provinsies vind 94% van alle oorlading van kritieke kraginfrastruktuur plaas.
"Transformators raak onklaar oral waar ons oorlading sien, en in die meeste gebiede wat ons al geoudit het, is dit weens onwettige kragverbindings wat hoogty vier," sê Daphne Mokwena, woordvoerder van Eskom.
In teenstelling met beurtkrag, wat ten doel het om die nasionale kragnetwerk teen ineenstorting te beskerm wanneer die vraag na krag hoër is as wat Eskom kan opwek, is ladingsvermindering 'n poging om plaaslike infrastruktuur te beskerm, al is daar genoeg krag.
"Wanneer ons ladingsvermindering toepas, doen ons dit omdat geïsoleerde en spesifieke kragnetwerke oorlaai word," sê Mokwena.
In gebiede waar kragdiefstal, hetsy deur middel van onwettige verbindings of die omseiling van kragmeters, hoogty vier, is daar geen perke op hoeveel krag gebruik word nie.
"Hulle koop nie hul elektrisiteit soos ek en jy nie en betaal dus nie vir die dienste wat hulle gebruik nie," sê Mokwena.
In Johannesburg het die metro dieselfde soort regverdiging verskaf, maar sy syfers laat die oë rek.
Volgens die syfers wat City Power verskaf het, was kragverbruik gedurende Junie in spitsure in die stad tot 65% hoër as in die somermaande. City Power voorsien die meerderheid gebiede in Johannesburg van krag.
Eskom is steeds die kragverskaffer vir talle groot gebiede in die stad, waaronder Fourways, Sandton en Soweto.
By navraag het Eskom se streekskantoor in Gauteng aan Netwerk24 gesê die grootste toename in kragverbruik wat hy in Junie teenoor die somermaande se spitsverbruik waargeneem het, was slegs 19%.
Selfs nie in die ekonomiese spilpunt van Sandton, die middelklaswoonbuurte van Fourways of in Soweto, waar kragdiefstal al jare 'n probleem is, het Eskom 'n vraag na krag van naby 65% meer as gedurende die somermaande waargeneem nie.
Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, beskou Eskom se persentasies as "nie heeltemal relevant nie".
"City Power het 'n besluit geneem om ladingsvermindering toe te pas nadat 'n skerp toename in verbruiksvlakke waargeneem is, relatief tot somerverbruikspatrone," sê hy.
"Daardie verbruikspatroon het beteken as niks onmiddellik gedoen sou word om verbruik te verlaag nie, ons kragnetwerk moontlik ineen kon stort."
Gevra of ladingsvermindering nie net die gevolg is van swak instandhouding van die kragnetwerk nie, het Mangena erken dit speel 'n rol, maar volgens hom nie 'n deurslaggewende een nie.
"City Power het 'n infrastruktuur-agterstand van meer as R46 miljard, wat bydra tot die uitdagings wat ons moet trotseer," sê Mangena.
"Dit is egter nie die enigste ding wat bydra tot die hoë vraag na krag nie.
"Daar is ander faktore, soos kabeldiefstal en vandalisme, onwettige kragverbindings, die omseiling van kragmeters en die algehele sorgvrye kultuur van oormatige kragverbruik."
Luidens 'n onlangse verslag oor energie in Suid-Afrika wat deur Nedbank saamgestel is, het kragverbruik nasionaal in die land, selfs gedurende Junie vanjaar, op minstens 3% laer as gedurende 2019 te staan gekom.





















