Die oliereus Shell se onttrekking aan Suid-Afrika se brandstofmark is met "sensasiebejag" aangegryp deur sommige om goedkoop politieke punte te probeer aanteken in aanloop tot die verkiesing.
Maar Shell se onttrekking is bloot deel van sy internasionale strategie en bied in werklikheid geleenthede vir beter transformasie in die sektor, asook vir kleinsakeondernemings.
So meen Yershen Pillay, uitvoerende hoof van die sektorale owerheid vir onderwys en opleiding in die chemiese bedrywe (Chieta).
Pillay beklemtoon dis nie die eerste keer dat 'n oliereus besluit om hom aan van sy belangrike bedryfsgebiede te onttrek nie. Chevron het soortgelyke besluite in 2018 geneem en Petronas het sy belang in Engen verlede jaar verkoop.
"Waarom is dieselfde aandag nie toe ook aan daardie maatskappye gegee nie? Miskien was die konteks nie so gunstig vir enige politieke party om dit te doen nie."
Volgens Pillay is sodanige besluite nie nuut of uniek nie. Hy verduidelik Shell se besluit is deel van sy energie-oorgangstrategie wat onlangs bekend gestel is, en waarin die groep openlik aangedui het hy wil koolstofvrystellings verminder en op sy meer winsgewende eksplorasiebedrywighede fokus.
In dié strategiedokument skryf sir Andrew Mackenzie, voorsitter van Shell, dat hulle hul netwerk van herlaaistasies vir elektriese voertuie wil uitbrei en steeds een van die wêreld se grootste vermengers en verspreiders van biobrandstof bly.
Namate die energie-oorgang vorder, wil Shell meer laekoolstofprodukte en -oplossings verkoop en minder olieprodukte soos petrol en diesel.
Plaaslik het Shell effektief net 'n invoerder en verspreider van petrol en diesel geword, want die raffinadery wat hy saam met BP in Durban bedryf het, is gesluit en die plaaslike mark vir elektriese voertuie is nog baie klein.
Pillay wys daarop dat Shell onlangs sy raffinadery in Singapoer verkoop het en ook sy 950 vulstasies in Maleisië wil verkoop.
Die regering van Singapoer en van Maleisië het dit nie nodig gevind om te verduidelik hoekom hul onderskeie lande steeds gunstige beleggingsbestemmings is nie. Pillay meen dus die Suid-Afrikaanse regering hoef ook nie te regverdig waarom die land 'n aantreklike beleggingsbestemming bly nie.
Shell se lojaliteitsprogram duur voort
Shell-klante wat deel is van sy V+-lojaliteitsprogram, het Vrydag 'n boodskap van Shell ontvang dat hulle gerus moet wees dat daar geen impak op die V+-program sal wees nie. Mense sal steeds hul voordele ingevolge dié program kan gebruik.
Shell het 591 vulstasies in Suid-Afrika, ná Engen met 1 040 en Astron Energy se 850. Shell is groter as TotalEnergies se netwerk van 547 vulstasies en BP se 500 vulstasies.
Sasol is die kleinste van die groot brandstofgroepe, met 354 vulstasies.
Bron: theoutlier.co.za
Hy meen die regering behoort Shell se onttrekking as 'n geleentheid eerder as 'n verlies te ag.
Pillay meen die brandstofsektor is nog grootliks ongetransformeerd. Hy beskryf baie van die transformasie-inisatiewe in die bedryf as bemagtigingsmaatskappye wat "posbus"-tipe maatskappye is sonder enige regstreekse betrokkenheid in olie- en gasproduksie of brandstofbedrywighede.
Hy glo dus Shell se onttrekking skep 'n geleentheid vir groter transformasie. Die gaping in die mark sal deur 'n ander oliegroep gevul word, maar die vraag is of Suid-Afrikaanse maatskappye gehelp sal word om die geleentheid te benut, en of dit weer aan internasionale groepe soos Vitol gelaat sal word om in te tree.
Die tweede geleentheid is vir werkskepping. Pillay glo nie daar sal werkverliese wees nie. Met Chevron se onttrekking in 2018 en die skep van Astron Energy was die ervaring dat die meeste poste behou is.
Shell het al sedert 2019 poste by sy plaaslike bedrywighede verminder, van 1 423 tot 1 062 werknemers. 'n Nuwe eienaar met 'n nuwe strategie kan die gety laat draai om meer poste te skep.
Die derde geleentheid is volgens Pillay vir klein- en middelslagondernemings en vaardigheidsontwikkeling. Die oorneem van Shell se bedrywighede is 'n geleentheid vir die skep van nuwe ondernemings en die ontwikkeling van plaaslike vaardighede.
Al lank afgewag
Dr. Neil Stacey, 'n lektor by die Universiteit van die Witwaterstand se Skool vir Chemiese en Metallurgiese Ingenieurswese, sê intussen op sy X-rekening dat Shell se onttrekking aan Suid-Afrika al 'n dekade gelede 'n moontlikheid was, en vir mense in die bedryf is dit eerder 'n verrassing dat dit so lank geneem het.
Hy meen die uitsprake dat dit te doen het met die komende verkiesing is dom.
Maar hy meen ook mense wat sê Shell verkoop ook bates in ander markte en dit het daarom nie iets met Suid-Afrika te doen nie, is "idiote".
Daar is 'n verskil tussen die aanpassing van 'n internasionale portefeulje en om eensklaps al jou bates in 'n land te verkoop, volgens Stacey, wat sê hy het sy doktorsgraad oor brandstofproduksie gedoen.
Volgens Stacey het Shell oor die jare bloot 'n swak handelsnaampersepsie gekry en is sy plaaslike winsgewendheid onder die norm.
Verkope by Shell-vulstasies het skerp geval weens oproepe vir 'n boikot uit protes teen die seismiese opnames wat hy aan die Wildekus wil doen.
Daarby is dit reeds moeilik vir brandstofmaatskappye om in Suid-Afrika sake te doen, gegewe die diefstal van brandstof uit pypleidings en by opgaartenks, en daar is volgens Stacey selfs gerugte van gevalle waar brandstofmaatskappye geld aan sindikate moet betaal sodat hul tenkwaens veilig deur 'n gebied kan ry.




















