Omgewings- en gemeenskapsgroepe het sukses behaal om nog 'n olie-eksplorasieprojek aan die kus van Suid-Afrika ten minste tydelik te stuit.
Dit is nadat hulle geslaag het met 'n hofsaak in die hooggeregshof in Kaapstad om die omgewingsgoedkeuring vir die Franse oliereus TotalEnergies en sy vennote se diepsee-boorplanne in 'n gebied suidwes van Suid-Afrika tersyde te laat stel.
Regter Nobahle Mangcu-Lockwood het verlede week in 'n uitspraak in die hooggeregshof beslis dat die regering se omgewingsgoedkeuring vir die projek tersyde gestel word. TotalEnergies moet nou weer 'n nuwe of gewysigde omgewingsimpakverslag by die departement van bosbou, visserye en die omgewing indien.
Dit gaan oor TotalEnergies, Shell en die staatsbeheerde PetroSA wat gesamentlik die eksplorasiereg het op 'n gebied van sowat 10 000 km² rofweg tussen Kaapstad en Kaap Agulhas.
Blok 5/6/7
Die eksplorasieblok staan bekend as Blok 5/6/7.
Dit is sowat 60 km van die kus op die naaste punt en 170 km op die verste punt, en die waterdiepte wissel van 700 m tot 3 200 m.
TotalEnergies en sy vennote het ingevolge die eksplorasiereg die reg gehad om seismiese opnames te doen in die blok. Dit is reeds gedoen en gegrond op die data beplan TotalEnergies nou om een eksplorasieboorgat te sink. Afhangend van hoe suksesvol dit is, sal nog tot vier boorgate gesink word.

The Green Connection en Natural Justice is twee groeperings van omgewings- en gemeenskapsgroepe wat in 2023 beswaar gemaak het teen die omgewingsgoedkeuring vir TotalEnergies se boorplanne.
Barbara Creecy, wat toe nog die minister van bosbou, visserye en die omgewing was, het die twee besware van die hand gewys. Dit is daarna dat hulle hul tot die hooggeregshof gewend het.
TotalEnergies en Shell het elk 'n belang van 40% in die eksplorasiereg, met PetroSA wat 20% het.
TotalEnergies wil hom onttrek
TotalEnergies is intussen in die proses om hom aan die projek te onttrek, en daarom het Shell aansoek gedoen om as respondent tot die hofsaak bygevoeg te word. Dit is omdat TotalEnergies sy belang aan Shell en PetroSA wil oordra.
TotalEnergies het hom vroeër ook al onttrek aan Blok 11B/12B verder oos van Blok 5/6/7. Blok 11B/12B is waar TotalEnergies in 2019 en 2020 aansienlike aardgasreserwes ontdek het, genaamd die Brulpadda- en Luiperd-veld.
TotalEnergies het in Julie verlede jaar aangekondig hy onttrek hom van die blok, want dit gaan vir hom te uitdagend wees om dit ekonomies te ontwikkel. Hy het toe ook al aangekondig dat hy van plan is om hom aan Blok 5/6/7, waaroor die afgelope hofuitspraak gehandel het, te onttrek.
Gebrekkige impakstudie
Mangcu-Lockwood het beslis TotalEnergies en sy vennote het nie voldoende in hul omgewingsimpak-oorsig die maatskaplik-ekonomiese impak in ag geneem as daar 'n onbeplande voorval tydens die boorwerk soos 'n ontploffing en oliebesoedeling sou plaasvind nie.
Sy het ook beslis dat die regering nie faktore oor geïntegreerde kusbestuur in ag geneem het in die besluit om omgewingsgoedkeuring te gee nie. Sy het bevind die impak van klimaatsverandering is nie behoorlik in ag geneem nie. Gebeurlikheidsplanne in geval van 'n boorgat-ontploffing en die gevolglike oliebesoedeling is nie deeglik hanteer nie, en daar was nie openbare deelname daaroor nie.
Die hof het beslis die departement van minerale en petroleumbronne moet nuwe omgewingsimpakstudies, bykomende inligting en openbare deelname laat doen oor die beoogde projek.
Oorwinning vir deursigtigheid
Shahil Singh, regsadviseur vir The Green Connection, sê in 'n verklaring die hofuitspraak beteken TotalEnergies en Shell moet nou bykomende studies oor die impak van 'n moontlike oliestorting op plaaslike en naburige kusgemeenskappe doen.
Singh beskryf die hofuitspraak as 'n oorwinning vir deursigtigheid, voorsorg en die regte van kusgemeenskappe en kleinskaalse vissers.
TotalEnergies het in Junie vanjaar omgewingsgoedkeuring gekry vir boorplanne in 'n ander gebied aan die kus van die Noord-Kaap, in die Oranjekom, waar hy tot sewe boorgate beplan.
Omgewingsgroepe is terselfdertyd op die oorlogspad teen planne van Shell om in 'n nabygeleë diepseeblok, ook in die Oranjekom, eksplorasiewerk te doen. Dit is in 'n gebied sowat 300 km wes van Port Nolloth.









