Die energiereus Shell - wat al langer as 120 jaar in Suid-Afrika bedrywig is - is op die rand daarvan om aan die land te onttrek te midde van 'n geveg met sy langtermyn-swartbemagtigingsvennoot, Thebe Investment.
Shell Suid-Afrika se leierskorps is van plan om hierdie week personeel en ander belanghebbendes van sy planne in te lig, word betroubaar verneem. Dit word as nog 'n voorbeeld beskryf van die toenemende wantroue in Suid-Afrika as 'n plek om sake te doen.

Shell het ongeveer 700 vulstasies oor Suid-Afrika heen en die maatskappy het duisende werknemers in diens.
Die verwagte aankondiging kom nadat Shell onlangs gesê het hy bly toegewyd aan Suid-Afrika en nadat hy eksplorasieregte by die departement van minerale bronne en energie onder minister Gwede Mantashe gekry het.
Die verwagte uittog van Shell - wat in Nederland ontstaan het, maar nou in Brittanje gesetel is - kom midde-in ontevredenheid oor die maatskappy se beweerde onderwaardering van Thebe se aandeelhouding.
Terwyl Thebe sy 28%-belang op $200 miljoen waardeer, sê Shell dit is eerder $73 miljoen wat sy aandeelhouers ingesit het sedert hulle 22 jaar gelede by die onderneming betrokke geraak het.
Een Thebe-aandeelhouer het aan City Press, susterkoerant van Rapport,gesê: "Dit is die Groot Nederlandse Rooftog. Ons, as Thebe-aandeelhouers, in werklikheid alle swart Suid-Afrikaners, voel beroof en gebruik.''
Die onenigheid het in 2022 begin toe Thebe aan Shell geskryf het om sy onttrekkingsklousule in werking te stel.
"Ons het aan hulle (Shell) geskryf om hulle in te lig oor ons voornemens soos die ooreenkoms toelaat. Ons wou kontant onttrek sodat ons kan gaan herbelê om sodoende die maatskappy (Thebe) te laat groei," het die bron gesê.
Thebe het glo lank gewag op 'n antwoord van Shell en nou beweer aandeelhouers die energiereus het teruggekrabbel op sy aanvanklike syfers en inligting.
"Hulle het doelbewus die syfers verander om die waarde van ons belang te ondermyn," beweer die bron.
Die skrif was reeds aan die muur toe al vier groot raffinaderye hul bedrywighede beëindig het weens 'n gebrek aan regulatoriese sekerheid en beleidstabiliteit.
Hy sê aandeelhouers is gegrief dat 22 jaar nadat die swart beleggers - wat weduwees ingesluit het - hul spaargeld ingesit het, " 'n wit maatskappy sê jou belang is niks werd nie''.
Shell het geweier om te bevestig of te ontken dat hulle beplan om Suid-Afrika te verlaat en het ook geweier om kommentaar te lewer oor die dispuut met Thebe Investments.
"As 'n saak van beleid en beginsel, distansieer Shell Downstream Suid-Afrika homself van bespiegelinge of gerugte, veral in verband met vertroulike aandeelhouerooreenkomste en -verhoudings.
"Uit respek vir ons vennote en hierdie ooreenkomste, is ons tans nie in staat om enige verdere kommentaar te lewer nie," het Shell se woordvoerder, Pam Ntaka, gesê.
Mantashe het gister aan City Press gesê hy "lewer nie kommentaar oor kwessies wat deur jul bronne beweer word nie".
Die sakeleier Bonang Mohale sê egter dit wys vertroue in Suid-Afrika neem af.
"Die skrif was reeds aan die muur toe al vier groot raffinaderye hul bedrywighede beëindig het weens 'n gebrek aan regulatoriese sekerheid en beleidstabiliteit," het Mohale gesê.
"Dit is maar die nuutste in 'n tendens van maatskappye wat Suid-Afrika verlaat, hoofsaaklik vir (die) eie doele wat ons aanhou aanteken.
"Al die ekonomiese aanwysers demonstreer sonder enige twyfel dat die land in baie diep moeilikheid is."



















